Susters vier onderwys as beroep

Hulle liefde vir kinders en die feit dat die klaskamer die perfekte geleentheid bied om werklik ‘n verskil in iemand se lewe te maak, is die motivering agter drie susters en onderwysers, Cindie en Liandrie Bester en Dorinda du Plessis, se beroepskeuse. Wêreldonderwyserdag word môre (Vrydag) gevier om onderwysers vir hul toewyding en professionaliteit te …

Hulle liefde vir kinders en die feit dat die klaskamer die perfekte geleentheid bied om werklik ‘n verskil in iemand se lewe te maak, is die motivering agter drie susters en onderwysers, Cindie en Liandrie Bester en Dorinda du Plessis, se beroepskeuse.
Wêreldonderwyserdag word môre (Vrydag) gevier om onderwysers vir hul toewyding en professionaliteit te salueer.
Al drie gee Afrikaans as vak – Die tweeling, Cindie, by Magalies Spesiale Skool in Pretoria en Leandrie by Laerskool Pietersburg-Oos. Ousus, Dorinda is by Hoërskool Pietersburg.
“Onderwys bied baie uitdagings en is nie maklik nie, maar dit bly ‘n voorreg om voor ‘n klas te staan en te weet jy kan die boompie buig terwyl hy jonk is,” praat hulle uit een mond.
Cindie beskou selfoonmisbruik, ‘n gebrek aan respek van leerders se kant af en dissiplineprobleme as die grootste uitdagings. “Leerders het nie meer respek vir onderwysers nie alhoewel die dissiplinestelsel help, maar jy het volgehoue ondersteuning van departementshoofde nodig.”
Sy meen ook die grootste verandering oor jare in die onderwys is tegnologie. “Tans is opvoeding met tabletrekenaars en slimborde soveel makliker. Werkopdragte word elektronies gedoen sodat kwaliteittyd aan voorbereiding bestee kan word.”
Vir Leandrie lyk die toekoms rooskleurig. “Die onderwystelsel pas gedurig aan by die milieu waarin die leerders opgroei en fokus op wat vir hulle van toepassing is. Nuwe idees hou deurentyd interessant.”

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

 

Exit mobile version