Willie Willemse skenk al meer as halfeeu bloed, mik vir 300 eenhede

Willie Willemse het as 18-jarige besluit bloedskenk is deel van sy leefwyse en meer as ‘n halfeeu later is hy steeds daartoe verbind. Oor die afgelope 53 jaar het hy 282 eenhede geskenk en het onlangs sy sewende medalje van die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloedddiens (SANBS) Limpopo ontvang toe hy die 275-eenhede mylpaal bereik het. Willemse …

Willie Willemse het as 18-jarige besluit bloedskenk is deel van sy leefwyse en meer as ‘n halfeeu later is hy steeds daartoe verbind.
Oor die afgelope 53 jaar het hy 282 eenhede geskenk en het onlangs sy sewende medalje van die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloedddiens (SANBS) Limpopo ontvang toe hy die 275-eenhede mylpaal bereik het.
Willemse (72) word ondersteun deur sy vrou, Lettie, wat ‘n skenker was, maar weens bloedarmoede en haar skrale 48 kg nie meer ‘n geskikte skenker is nie, maar steeds haar gewig by SANBS ingooi waar hulle albei op die Polokwane bloedskenkerskomitee dien.
Na skool het Willie by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Stilfontein aangesluit waar hy en sy makkers opgemerk het dat die mynpersoneel ná werk by die plaaslike mynklub skenk. “Toe ons hoor dat ‘n skenker ‘n gratis bier of koeldrank na die tyd kry, was ons belangstelling onmiddellik geprikkel en het ons onomwonde deel van dié groep geword,” lag hy.
“Ons seun is op sewe maande gebore, was 32 dae in ‘n broeikas en moes baie bloedoortappings kry. Om hom elke dag so te sien met al die pype in sy lyfie, het ons laat besef dat jy lewens red deur bloed te skenk en van toe af was ons gereelde skenkers,” vertel Lettie.
Willie skenk sedertdien ses keer per jaar bloed en het na sy sestigste verjaarsdag afgeskaal na vier keer per jaar. “Ek geniet nog uitstekende gesondheid en oefen vier keer ‘n week in die gimnasium. Ons gaan dans gereeld en is aktief by die plaaslike motorfietsryers betrokke, waar ek as Oom Willie V-Max bekendstaan, sê Willie wat ook van tuin- en houtwerk hou en by die motorfietsryers se liefdadigheidsaktiwiteite betrokke is.
Die Willemses woon die afgelope 20 jaar in die stad en kuier graag saam met hul seun, skoondogter en vier kleinkinders. “Ons is nog heeltemal te jonk om stil te sit. Ek sê eerder ek het langverlof as om te sê ek het afgetree,” meen Willie wat dit baie geniet om saam met mede­komiteelede nuwe skenkers te werf en mense oor die noodsaaklikheid van bloedskenk bewus te maak. “Elke eenheid kan drie lewens red en dit is wonderlik om te weet dat jy iemand se lewe kan red wat jy nog nie eers ontmoet het nie.”
Willie en Lettie is mekaar se grootste ondersteuners en motiveerders. “Lettie se toewyding en ondersteu­ning maak dit vir my moontlik om alles in die lewe met krag aan te pak en deur te voer, maar alle eer kom eerstens die Aller­hoogste toe. As dit Sy wil is, gaan ek nog die 300-eenhede mylpaal bereik,” sê hy sonder huiwe­ring.

Storie & foto: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Exit mobile version