Damestee vir Down-sindroom- en hartlyertjie se mediese uitgawes

Die eenjarige Minke Geldenhuys, ‘n Down-sindroomlyer wat met ‘n hartdefek gebore is, moet dringend ‘n opehartoperasie ondergaan en het ernstige voortdurende mediese probleme waarvoor daar nie geld is nie omdat die gesin nie oor ‘n mediese fonds beskik nie. Haar ouma, Marlene Klynhans reël ‘n da­mestee om geld vir die kleinding, wat gereeld asemnood het …

Die eenjarige Minke Geldenhuys, ‘n Down-sindroomlyer wat met ‘n hartdefek gebore is, moet dringend ‘n opehartoperasie ondergaan en het ernstige voortdurende mediese probleme waarvoor daar nie geld is nie omdat die gesin nie oor ‘n mediese fonds beskik nie.
Haar ouma, Marlene Klynhans reël ‘n da­mestee om geld vir die kleinding, wat gereeld asemnood het en al vier keer in vyf maande vir longontsteking gehospitaliseer moes word, in te samel. “Dit gaan ‘n heerlike kuieroggend saam met vriendinne wees met gassprekers, musiek en heerlike eetgoed ten bate van Minke om vir haar ‘n normaler en beter lewe te verseker,” sê sy. ‘n Verskeidenheid skilderye gaan ook opgeveil word.
Die gassprekers is Christina Langenhoven van La Wiida Leersentrum en Elihana Colyn. Beide vroue het persoonlike ondervinding met Down-sindroomkinders. Minke se ma, Toinette, sal ook ‘n spreker wees.
Die NG Kerk Pietersburg-Noord onder leiding van leraar, Hannes Bezuidenhout, administreer tans die fondinsameling onder verwysing: Minke.
Klynhans het ‘n beroep op diegene gedoen wat bereid is om as gasvroue op te tree en eetgoed, tee en koffie vir 10 vriendinne te voorsien. “Maak jou tafel op soos jy wil en laat jou vriendinne volgens ‘n tema aantrek. Kom geniet die dag saam met ons.”
Toinette en Minke se pa, Ryan sê Minke is hul kosbare laatlammetjie. Haar sussie Megan is 16 en broer Nathan is 7.
Die damestee vind op 6 Oktober om 10:00 in Pietersburg-Noord se kerksaal plaas teen R50 per persoon. Skakel Klynhans by 082 449 8353 vir meer inligting.

Storie en foto: KAREN VENTER
>>karen@observer.co.za

 

Related Articles

Back to top button