Cailin Menzies blink uit met haar veelsydigheid

Sprankelende rooikop, Cailin Menzies, (13) is ‘n energieke meisie wat vir alles in die lewe kans sien en presteer in dit wat sy aanpak. Die Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) graad 7-leerder is onderhoofmeisie en ‘n top 10 akademiese leerder. Sy speel vir die skool se tweedehokkiespan en het as lid van die eerste netbalspan haar skool …

Sprankelende rooikop, Cailin Menzies, (13) is ‘n energieke meisie wat vir alles in die lewe kans sien en presteer in dit wat sy aanpak.
Die Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) graad 7-leerder is onderhoofmeisie en ‘n top 10 akademiese leerder. Sy speel vir die skool se tweedehokkiespan en het as lid van die eerste netbalspan haar skool by die Suid-Afrikaanse Skole Netbalkampioenskappe verteenwoordig. As ywerige atleet het sy by die Limpopo-skole atletiekkampioenskappe in verspring en hekkies meegeding.
Cailin is lid van die skool se koor wat tydens die onlangse Limpopo Eisteddfod as die top juniorkoor benoem is. Sy tree ook gereeld as seremoniemeester by verskeie skoolfunksies op en sê sy geniet dit om mense te vermaak.
Op die vraag oor hoe sy alles inpas sê sy dis nie vir haar ‘n probleem nie en dat sy steeds hope tyd het om te ontspan. Sy erken egter dat sy, selfs as sy ontspan, aktief bly en veral springmattoertjies en fietsry geniet. Gimnastiek en dans is ook op haar lys. “Ek hou daarvan om besig te bly en ruim tyd in vir alles.”
Haar gunstellingvak is sosiale wetenskappe en sy wil graag eendag ‘n natuurfotograaf word. “Dit sal ideaal wees om my twee passies, die natuur en fotografie, saam uit te leef.”
Haar topwenk vir volgehoue akade­miese prestasie is om altyd in die klas te luister en te konsentreer.
As onderhoofmeisie neem sy ook gereeld deel aan gemeenskapsprojekte soos die insameling van water vir die Kaapstadse waterkrisis vroeër vanjaar. “Dit is belangrik dat ons vir ons medemens omgee en doen wat ons kan om ander te help,” glo sy.
Sy is volgende jaar ‘n groentjie aan Hoërskool Pietersburg en sien baie uit na die uitdagings van die hoërskool. “Ek is nuuskierig oor die vakke wat ons nie op laerskoolvlak kan neem nie.”
Cailin en haar gesin is diereliefhebbers en besit twee katte, twee honde en vier voëls. “Ek hou daarvan om familietyd op die plaas of by die dam te spandeer.”
Haar ouers, Malcolm en Estelle, is haar rolmodelle asook die Olim­piese artistiese gimnas, Simone Biles. Sy glo dat God niks op mense se pad sit wat hulle nie kan hanteer nie en sê kinders ‘moenie worry nie, later in die lewe gaan niks wat nou gebeur saak maak nie, so moenie te ernstig wees nie.’
Haar ouers het haar geleer dat dit belangrik is om ‘n gebalanseerde, gesonde lewe te handhaaf wat godsdiens insluit. Selfs haar gunsteling gemorskos is redelik gesond. “Ek is mal oor Nando’s se wraps en McDonalds se nuggets.”
Cailin sê iets wat mense nie van haar weet nie is dat haar tweede naam Tau is. “Dit beteken leeu in Sotho,” verduidelik sy. “Leeus is dapper, sterk en leiers en dit is wat ek ook graag wil wees.”

Storie & foto: KAREN VENTER
>>karen@observer.co.za

Related Articles

Back to top button