Plant nou jou boom om die omgewing groener te maak

“Die beste tyd om bome te plant is 20 jaar gelede en die tweede beste tyd is nou,” meen Cornie Odendaal, eienaar van Callidendron Inheemse Kwekery tereg. Suid-Afrikaners het van 1 tot 7 September geleentheid om die omgewing groener te maak en nie net die estetiese genot van bome te vier nie, maar ook die …

“Die beste tyd om bome te plant is 20 jaar gelede en die tweede beste tyd is nou,” meen Cornie Odendaal, eienaar van Callidendron Inheemse Kwekery tereg.
Suid-Afrikaners het van 1 tot 7 September geleentheid om die omgewing groener te maak en nie net die estetiese genot van bome te vier nie, maar ook die kardinale rol wat hulle in die lewensiklus speel deur besoedelde lug te filtreer, skadu te verskaf en vir voëls kos en nesmaakplek te voorsien, te beklemtoon.
Boomplantdag, wat gekoppel word aan die Boom van die Jaar, fokus vanjaar op geelhoute (Podocarpusspp.).
Die skaars Boom van die Jaar is die witgat (Boscia albitrunca), ’n klein tot mediumgroot boom met ligkleurige bas en trosse leeragtige blare. Dit kom in die droër gebiede van Suid-Afrika voor, wat dit ’n goeie droogtebestande skaduboom maak en dikwels die ‘boom van die lewe’ genoem word omdat dit ’n voedselbron vir soogdiere, voëls en skoenlappers is.
Hoe plant mens ‘n boom?
Odendaal sonder belangrike stappe uit:
Die regte boom vir die klimaatstreek en ruimte wat beskikbaar is. Hou die wortels in ag; plant die boom ver genoeg, tussen 5- en 15 m, van konstruksies sodat die boom se wortels nie oor 50 jaar jou mure gaan kraak nie. Moenie bome met aggressiewe wortels in ‘n klein tuin plant nie; daar is oorgenoeg klein bome met penwortels om van te kies.
Die grootte van die gat hang af van die grondkwaliteit af. In en om Polokwane is meer klip as grond daarom moet groot gate gemaak word om baie kompos vir die bome te gee.
Die boom se grondvlak moet korrek bly. Maak ‘n hopie grond-en-kompos-mengsel in die gat. Sit die boom (eers sommer sak en al) op die hopie en sit die graaf horison­taal oor die gat om te sien of die boom se grondvlak reg is (of dalk gelig of gesak moet word). Haal nou die boom uit die sak en plant. Gooi om die beurt grond en kompos met bietjie beenmeel (twee hande) in die gat en druk goed vas wanneer die gat vol is (tot by die boom se grondlyn). Maak ‘n walletjie om die boom.
Die boom moet natuurlik natgegooi word; heelwat om mee te begin. Op die langtermyn hang dit af van die soort boom; min vir ‘n olien of kremetart en baie vir ‘n boom wat normaalweg langs ‘n rivier groei.

Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Exit mobile version