Jayden Ferreira met sy Minimoto tans derde op nasionale ranglys

Met die aankoms by sy ouma, Erna Slement se huis, lê die sewejarige Jayden Ferreira plat op die grond op sy rug om hom in sy motofietswedrenpak in te wurm en vra die oom van die koerant om hand by te sit. “Dit is ‘n goeie pak oom – een van die bestes en daarom …

Met die aankoms by sy ouma, Erna Slement se huis, lê die sewejarige Jayden Ferreira plat op die grond op sy rug om hom in sy motofietswedrenpak in te wurm en vra die oom van die koerant om hand by te sit.
“Dit is ‘n goeie pak oom – een van die bestes en daarom is ek nie bang om motorfiets te ry nie. Ek kan nie seerkry as ek dié pak aanhet nie,” sê hy en versoek sy ouma om sy valhelm reg te kry terwyl hy sy 49 cc Mini-moto van die staander afhaal.
Jayden se uitbundigheid ken geen perke en sy ouma moet net keer toe hy daar en dan die motorfiets wil aanskakel om te wys waartoe hy op sy ysterperd in staat is.
Dié graad 1-leerder van Pie­tersburg Laerskool is die enigste motorfietsryer van die stad wat aan die Superbike Magazine Short Circuit Racing Series se beginnersklas deelneem en hy maak vinnig naam sedert hy verlede jaar kompeterend begin ry het.
“Jayden het ongeveer twee en ‘n half jaar gelede vir die pret begin ry toe ons eendag by die baan was waar ander kinders met Minimotos gery het. Ons het gou agtergekom dat hy talent het en hom verlede jaar vir die reeks se beginnersklas ingeskryf. Ons is almal verbaas oor sy opgang,” sê sy oupa en afrigter, JP Slement.
Met sy eerste wedren behaal hy ‘n algehele sege en kom algeheel tweede in die tweede wedren wat hom aan die einde van die reeks ‘n algehele tweede plek vir die jaar besorg. Vanjaar was daar al ses wedrenne waarvan hy twee gemis het; een weens siekte en die ander een omdat hulle nie so ver na Port Elizabeth kon reis nie. Weens sy prestasies in die vier wedrenne is hy tans derde nasionaal op die beginnersranglys met slegs nege punte verskil tussen hom en die deelnemer in die tweede plek.
“Daar is twee wedrenne vir die jaar oor en Jayden neem op 29 September in Polokwane deel waarna hy dan in die finaal op 3 November in Vereeniging mee­ding. Hy is vol vertroue dat hy goed sal vaar en opvang,” meen Slement.
Elke wedren bestaan uit ses rondes en drie wedrenne word gedurende ‘n kompetisie gery. Die 49 cc motorfiets lewer drie perdekrag en handhaaf ‘n spoed van meer as 45 km/h.
“Die lekkerste is wanneer ek op die reguit deel van die resiesbaan kom. Dan knyp ek my motorfiets se oor sodat ek volspoed kan ry. Daar is nie regtig iets waaraan ek dink op die baan nie behalwe om voor te kom en te wen,” sê Jayden.
Alhoewel hy voorheen al geval het, het dit hom nie afgeskrik nie en is hy vol vertroue dan sy pak hom genoegsaam sal beskerm. “Ek oefen elke naweek en is heeldag op die baan. Jy moet hard oefen om die beste te wees.”
Jayden se rolmodel is die Italiaanse veelvoudige MotoGP-wêreldkampioen, Valentino Rossi, wat die enigste motorfietsrenjaer is wat daarin kon slaag om in vier verskillende klasse as wêreldkampioen gekroon te word. Rossi se rennommer 46 is ook dié van Jayden se motorfietsnommer.
“Ek wil nog baie bereik en sal aanhou ry solank ek kan. Vir eers kan ek nie wag om my rooi motorfiets (met meer perdekrag vir ‘n hoër klas) te ry nie en as ek groot is wil ek in die superbike-afdeling of in Formula 1 deelneem,” droom hy.

Storie & foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version