Vakansie van ‘n leeftyd op die spel

Twee paartjies of vier vriende kan die safari van 'n leeftyd wen deur kaartjies te koop vir die Potgietersrus Hervormde Kerk se gelukstrekking wat volgende Vrydag, 31 Augustus, gehou word.

MOKOPANE – Die gelukkige wenners word op 22 September in Mokopane opgelaai en vertrek dan na Elephant Sands net verby Nata, waar hulle aandete sal geniet en oorslaap. ‘n Honderd of meer olifante kom saans daar water suip, ‘n onvergeetlike ondervinding, waar die olifante tot so min as 10 meter van ‘n mens af kom.

Die volgende oggend teen dagbreek vertrek die geselskap om ontbyt te geniet op Pandamatenga voor hulle die grens oorsteek na Zimbabwe.

Hulle word vir die volgende drie dae na Karibameer geneem waar hulle op die eiland Munsa in ‘n lugversorgde dubbelverdieping huis tuisgaan. Dit is naby die inloop van Karibameer, naby Deka, wat bekend is vir hengel.

Die huis is beman met ‘n sjef en ‘n span bediendes wat vir alles sorg. Vandat mens daar aanland tot en met jou vertrek lig jy nie ‘n vinger nie.

Die plek besit ‘n “pontoon” met ‘n skipper waarmee die gaste op die meer geneem word om te hengel of om sommer net te ontspan, die bootrit te geniet en die asemrowende sonsondergange te aanskou met ‘n skemerkelkie in die hand.

Vandaar reis die gelukkige vier na die Victoria watervalle waar hulle ‘n ontbyt geniet by die Lookout Café voor hulle die waterval van nader gaan bekyk en dan vertrek hulle na die noorde van Botswana waar hulle by die Big Five River Lodge op die wal van die Chobe rivier sal tuisgaan.’n Rivierboot en ‘n gids neem die geselskap dan stroomop in die Chobe rivier waar gaste kan visvang of net die natuurskoon en wildlewe van die Chobe Nasionale Park te geniet.

Die volgende dag is daar ‘n wildsbesigtigingsrit deur die Chobe Nasionale Park en ‘n “brunch” by die Cinderella piekniekterrein voordat die toergroep na Pandamatenga reis waar hulle die aand oorslaap.

Op Saterdag, 29 September, pak hulle dan die lang pad terug Mokopane toe waar hulle vir oulaas in die Kameeldoring Gastehuis oorslaap voor hulle Maandag moet terugkeer werk toe.

Die organiseerder van die toer, mnr. Jan Human sê die vakansie is ongeveer R50 000 werd. Hy borg alle vervoer, etes en verblyf ter fondsinsameling vir die kerk. Daar is min tyd oor, maar almal wat belangstel kan vir Hendré Oberholzer skakel om voor die sluitingsdatum (Vrydagoggend, 31 Augustus) kaartjies te koop teen R150 per inskrywing. Sy kontaknommer is 083 449 7366.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version