Musiekvoordrag in dié eisteddfod-beoordelaar se bloed

As gekwalifiseerde pianis en musiekvoordragafrigter sien Marelize Koch baie daarna uit om aan jong talent te help skaaf.

POLOKWANE – Sy is een van die beoordelaars vir die opkomende Limpopo Eisteddfod en gaan leerders wat deelneem help om hulle musikale vernuf op te skerp.

Musiekvoordrag, sê sy, was nog altyd ‘n groot deel van haar lewe en dit is iets waaroor sy baie passievol is.

Sy het op agtjarige ouderdom met klavieropleiding begin en as deel hiervan verskeie musiekeksamens afgelê en aan konserte en uitvoerings deelgeneem. By die Hoërskool Newcastle, waar sy matrikuleer het, is haar passie vir musiek op vele wyses gestimuleer. Na skool voltooi sy haar BMus Honneursgraad aan die Noordwes Universiteit waar sy ook die begeleiding vir verskeie kore en musiekblyspele waarneem tydens haar studiejare. Behalwe haar ervaring as pianis, bespeel sy ook die tromboon in die Kwazulu-Natal se jeugorkes en die Noordwes Universiteit se simfonieorkes. Hierbenewens bespeel sy ook die viool in verskeie instrumentale ensembles en sing in die PUK-koor.

Na voltooiing van haar graad, gaan werk Marelize in Londen, Engeland en tree op in verskeie solo-uitvoerings. Met haar terugkeer na Suid-Afrika in 2009, begin sy skoolhou by die Hoërskool Newcastle. Tydens haar eerste jaar as onderwyser koördineer sy vermaak vir die jaarlikse skool- en gemeenskapsfunksies. Haar pligte vereis onder meer die bestuur van programme, verhoogbestuur en skakeling met professionele kunstenaars.

In 2010 word sy permanent by dié skool aangestel om musiek as vak aan te bied. In dié tyd dirigeer en begelei sy ook die Cantare Vokale Ensemble. Na twee jaar verhuis sy na Pretoria ten einde haar studies voort te sit en sy voltooi haar Meestersgraad in uitvoerende kuns onder leiding van prof. Joseph Stanford aan die Universiteit van Pretoria.

“Dit beteken ongelooflik baie om aan jong talent te kan help skaaf en ek sien baie uit na die komende eisteddfod,” glimlag sy.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version