Tienjarige swemkampioen, Juan Randall, ryg goue medaljes in

As tienjarige is Juan Randall reeds ‘n uitblinker in die swembad wat tans bo aan Swem Suid-Afrika se ranglys in sy ouderdomsgroep vir verskeie items is. As lid van die plaaslike swemklub, Eagar Aquatics, spog hy met ‘n rits goue medaljes wat hy sedert die begin van die jaar op nasionale vlak verwerf het en …

As tienjarige is Juan Randall reeds ‘n uitblinker in die swembad wat tans bo aan Swem Suid-Afrika se ranglys in sy ouderdomsgroep vir verskeie items is.
As lid van die plaaslike swemklub, Eagar Aquatics, spog hy met ‘n rits goue medaljes wat hy sedert die begin van die jaar op nasionale vlak verwerf het en boonop drie nuwe rekords wat hy tydens die Sasol Winterkampioenskappe verbeter het.
As negejarige het hy selfs 14-jariges uitgestof en is tydens die Suid-Afrikaan­se Skole Swemkampioenskappe in Januarie as junior Victor Ludorum-swemmer aangewys.
Tydens die Sasol Winterkampioenskappe in Junie verower hy nie net 12 medaljes waarvan agt goud, twee silwer en twee brons is nie, maar verbeter drie rekords in sy ouderdomsgroep; die
200 m-rugslag van 3:07 na 2:55, 100 m-rugslag van 1:25 na 1:22 en die 200 m-vryslag van 2:44 na 2:38.
‘n Maand later verower hy ses goue- en een silwermedalje in nege items by die TYR Prestige Swemtoenooi in Durban.
Hy oefen tot vier dae per week vir sowat 90 minute per sessie onder leiding van sy afrigter, Ilani Swanepoel. “Dit is net die begin van groot dinge vir Juan. Hy is ‘n harde werker wat al sy aandag op die spesifieke taak waarmee hy besig is fokus. Die klub is baie trots om hom as lid te hê.”
Sy ma is in ‘n motorongeluk oorlede toe hy maar drie jaar oud was en hy woon by sy ouma en oupa, Adri en James Cato. Volgens hulle is Juan ook graag by die huis in die swembad. “Hy oefen tuis met sy oupa se hulp en is mal daaroor om met sy niggies en nefies in die water te baljaar,” sê Adri.
Juan, wat as sesjarige begin swem het, se talent is tydens Oosskool se graad R-swemgala ontdek waarna hy by Eagar Aquatics aangesluit het, volgens sy grootouers.
Hy is nederig oor sy prestasies en benewens swem deel hy ook ‘n groot liefde vir ander sportsoorte. Hy draf as losskakel vir Laerskool Pietersburg-Oos se o.10A-rugbyspan uit en hou ook baie van krieket en landloop.
Hy is egter nie net ‘n sportuitblinker nie, maar bring ook sy kant op akademiese gebied en spog met ‘n gemiddeld van 92% vir die afgelope tweede kwartaal. Wiskunde is sy gunstelingvak en wanneer hy nie in die swembad of agter die boeke is nie speel hy graag rekenaarspeletjies.
Sy rolmodel is die Olimpiese goue medaljeswemmer, Chad le Clos, en hy wil graag in sy voetspore volg deur goue medaljes vir sy land in te palm. “My oupa sê altyd, ‘dit wat jy insit is dit wat jy uitkry’ so ek glo met harde werk sal ek my droom verwesenlik.”
Verloor beteken vir hom dat jy net harder moet oefen. “Ek kompeteer teen myself en teen my vorige tye en nie teen ander deelnemers nie. Die beste raad wat ek by my swemafrigter kry is om altyd hard te skop en om nie rond te kyk nie. En nooit moed op te gee nie.”
Juan se advies aan ander kinders wat graag wil presteer, is: “Wanneer jy jou beste gee, is jy ‘n wenner vir jouself.”

Storie: KAREN VENTER
>>karen@observer.co.za

Exit mobile version