Kom geniet Dankfees vir die Afrikaanse Bybel

Die onderwerp van Moedertaalonderrig is een wat die afgelope tyd baie onder die loep gekom het.

POLOKWANE – Volgens kenners leer kinders beter in die taal wat hulle by die huis praat as ‘n sekondêre taal. Dus, om die Bybel in jou eie taal te kan lees is ‘n voorreg en nie iets wat elke Bybelleser bestem is nie. Vanjaar vier lesers van die Afrikaanse Bybel 85 jaar se genot van Bybel lees in hul Moedertaal.
Op 26 Augustus 1933 is die eerste Afrikaanse Bybel in die Marksaal van Bloemfontein bekend gestel. Reeds vir die afgelope 10 jaar word hierdie geleentheid in Polokwane by die Pietersburg Geloftefeessaal herdenk met ‘n Vreugdefees en Dankdiens.
Dit word deur Johan Willemse georganiseer en hy vertel die feesvieringe sal om 18:30 op 26 Augustus plaasvind.
“Almal wat dankbaar is dat God ons ‘n wonderskone Moedertaal gegee het, asook die voorreg om God se Woord in daardie taal te mag lees, word hartlik uitgenooi na hierdie verjaarsdagviering. Ons gaan die middag ‘n vleisie op die kole braai en lekker saam kuier by die Doornkraal Ontspanningsterrein,” vertel hy.
Vanjaar word die Dankdiens deur ds. Flip Snyders van die Hervormde Gemeente, Noordelike Pietersburg gelei. Alle donasies en kollektes wat die dag ingevorder word, sal direk aan die Bybelgenootskap van Suid-Afrika geskenk word.
“Ons vertrou dat die Afrikaner Kultuurgemeenskap, van alle denominasies en gemeentes, in groot getalle hierdie geleentheid sal ondersteun en elkeen hul gesin, familie en vriende sal saambring.”
Vir meer inligting, kontak Johan Willemse by 072 197 3134.
maretha@mgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version