Ensemble Esprit verower silwerdiploma by Wêreldkoorspele

Polokwane se eie kamerkoor, Ensemble Esprit, het met ‘n silwerdiploma van die tiende Wêreldkoorspele wat onlangs in Pretoria plaasgevind het, teruggekeer. “Dit was ‘n skouspel van kleur en klank waartydens 412 kore van dwarsoor die wêreld meegeding het om met die hoogste louere in die verskillende kategorieë weg te stap,” sê Ans Becker, woordvoerder van …

Polokwane se eie kamerkoor, Ensemble Esprit, het met ‘n silwerdiploma van die tiende Wêreldkoorspele wat onlangs in Pretoria plaasgevind het, teruggekeer.
“Dit was ‘n skouspel van kleur en klank waartydens 412 kore van dwarsoor die wêreld meegeding het om met die hoogste louere in die verskillende kategorieë weg te stap,” sê Ans Becker, woordvoerder van die koor.
Volgens haar is daar in die kampioene- en ope afdelings meegeding en medaljes is slegs in die kampioene afdeling toegeken, “Om in dié afdeling mee te ding moes ‘n koor reeds ‘n goue diploma op ‘n internasionale kompetisie verower het. Suid-Afrika het met meer as 160 kore wat deelgeneem het 76 wenkore gehad. China het met 32 kore, 25 medaljes verower. Rusland het nog beter gevaar deur met slegs 10 kore 17 medaljes te verower.”
In die ope-afdeling, waarin Ensemble Esprit as gemengde kamerkoor deelgeneem het, het 174 kore meegeding en is diplomas toegeken.
Becker sê hulle was baie beïndruk met die wyse waarop kore, van veral die Oos-Europese lande, die toekenningsgeleentheid met hulle nasionale volksdrag bygewoon het om hul lojaliteit en volkstrots te vertoon.
“Die was ‘n verrykende ervaring vir ons om soveel uitstekende kore in so wye verskeidenheid genres te hoor en te beleef. Dit sal ook vir ons as aansporing dien om steeds daarna te streef om ons vaardighede te verbeter,” sê Becker.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Exit mobile version