EntertainmentLifestyle

Nuwe uitkyk vir Eco-buksie

Die Ford Ecoboost 1.5 Ambiente het 'n oormaaksessie agter die rug en spog nou met 'n nuwe aantreklike voorkoms.

MOKOPANE – Bosveld het dié nuwe en gewilde Ecosport vir ‘n toetsrit gevat en vir ‘n diesel kruismodelnutsvoertuig het die motor beïndruk met sy krag en sjarme.

Dié 1.5 dieselenjin staan glad nie terug nie en lewer 74 kW krag per 3 750 r/pm. Sy brandstofdoeltreffendheid beloof slegs 4.1L per 100 km wat verseker ‘n bonus in jou sak sal wees met die brandstofprys wat aanhoudend klim.

Die kattebak het ‘n hoogteverstelbare vloer.

Die nuwe model se voorkoms is bonkig met nuwe hoekligte. Die agterkant het ook ‘n hersiene buffer en nuwe stertligvorm. Klim jy agter die stuur in val die luukse binneafwerking op.

Dié diesel was nie lui op die langpad nie en het laat spaander toe ons voet neersit. Ons kon skaars die gebrom van die enjin hoor. Vir ‘n ‘mini-SUV’ het die kar se hantering beïndruk en was die kommunikasie tussen die stuurwiel en beweging skerp. Selfs die ratverskuiwing was gemaklik om te hanteer.

Bosveld was verras deur die hoeveelheid ruimte binne die motor. Nie net is daar plek vir drie passassiers agterin met veiligheidsgordels om elkeen se lyf nie, maar het die Ambiente ‘n wye paneelbord wat die ruimte vir die bestuurder gemakliker laat voel. Die binnekant het ‘n standaard ses-luidsprekerstelsel, ‘n eenvoudige Bluetooth- en stembeheerstelsel en twee USB-poorte met iPod funksies.

Nog ‘n nuutjie is die kattebakspasie met ‘n hoogteverstelbare vloer wat die ruimte tot 334 liter verhoog. Om spasie nog verder te vermeerder kan die sitplekke afgeslaan word. ‘n Veiligheids-pluspunt is die ses lugsakke.

Bosveld was beïndruk met die ryding en meen dit is ‘n ideale motor vir die gesin.

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button