Klasie Viljoen vervul sy roeping met oorgawe in die politiek

Klasie Viljoen ag hom gelukkig dat die Here hom met die talent geseën het om sy woord te doen en dit is ook die rede waarom hy op 87-jarige leeftyd kan terugkyk op ‘n uitdagende loopbaan van 37 jaar in die politiek. Viljoen het nie na skool politieke aspirasies gehad nie, maar was van plan …

Klasie Viljoen ag hom gelukkig dat die Here hom met die talent geseën het om sy woord te doen en dit is ook die rede waarom hy op 87-jarige leeftyd kan terugkyk op ‘n uitdagende loopbaan van 37 jaar in die politiek.
Viljoen het nie na skool politieke aspirasies gehad nie, maar was van plan om vir hom ‘n loopbaan as regspraktisyn uit te kerf totdat hy die eerste keer ‘n politieke vergadering saam met sy pa in 1950 bygewoon het. Net daar het hy besluit hy kan ‘n verskil maak en help om nie net landskwessies in perspektief te plaas nie, maar ook deel van die oplossing van ‘n voorspoedige Suid-Afrika vir almal, ongeag ras, geloof, taal of politieke oortuigings te wees.
Intussen moes hy sy regstudies staak as gevolg van ‘n tekort aan geld en het dieselfde jaar die Oom Jannie-tak van die Verenigde Party (VP), vernoem na Jan Smuts, medestigter van die VP as trotse jong Sap gestig. ‘n Paar maande later word hy sekretaris van die Pretoria-distrik se afdelingsbestuur en raak vinnig betrokke by die VP se jeugbeweging waarvan hy in 1955 provinsiale leier word.
‘n Jaar later word hy jeugsekretaris van die VP in Transvaal en beklee dié posisie tot in 1960 waar hy sy eerste vrou, Ellen Dory, ontmoet en in 1961 met haar trou. In daardie tyd stel hy homself vir die eer­ste keer as kandidaat vir die provinsiale raad in Vereeniging beskikbaar, maar kry ‘n goeie drag slae teen die Nasionale Party (NP) se kandidaat.
In dieselfde jaar word hy streekorganiseerder in Standerton, Wakkerstroom, Ermelo en Bethal.
In 1966 verhuis die Viljoens terug na Pretoria waar hy as sekretaris van die plattelandse algemene raad aangestel word en mettertyd tot provinsiale sekretaris van Transvaal vorder tot in 1977 met die ontbinding van die party en stigting van die nuwe naam, Nuwe Republiek Party (NRP).
Viljoen meen sy groot kopskuif het in die vroeë tagtigerjare gekom toe Frederick Van Zyl-Slabbert buiteland toe agter die African National Congress-lede (ANC) is om met hulle te praat en hy besef het die ANC is buite die land terwyl mense en leiers wat onder apartheid swaarkry binne die landsgrense is.
“Ek, Dan Kriek en Frans Cronjé het leiers van tuislande, burgemeesters en kultuurleiers op eie inisiatief besoek om met hulle oor die Suid-Afrika van die toekoms te praat waarvan almal moet deel wees. Een van hulle was Cedric Phathudi, wat later hoofminister van Lebowa geword het, wat ‘n groot indruk op my gemaak het omdat hy kalm en taktvol kon bly ten spyte van groot verskille. Ek het onder­neem om ‘n vergadering met PW Botha (destydse eerste minister) te bewerkstellig met die oog op die moontlike verslapping van die apartheidswet en die akkommode­ring van hul regte sodat die NP kan sien hulle kan nie net op die ANC reken nie.”
Suksesvolle opvolgvergaderings is gehou, maar met die uiteindelike vergadering om lede te kies wat met Botha sal vergader het niemand opgedaag nie.
“Ek het in my kar geklim en is na Phathudi se woning in Seshego om agter die kap van die byl te kom. Botha het almal wat met ons gepraat het gedreig dat hy hul finansiële voordele sal terugtrek as hul verder met ons onderhandel. Ek dink Botha wou nie toelaat dat iemand anders inisiatief neem om ‘n beter bedeling vir alle Suid-Afrikaners te bewerkstellig nie.”
Viljoen sê hy het bly hoop dat hy agter die skerms kon meewerk om onder leierskap van Sir De Villiers Graaff ‘n federaal-konfederale opset in Suid-Afrika te skep en reeds toe al met tuislande te kon wegdoen en federale eenhede te skep.
In 1970 kry Viljoen ‘n persoonlike oproep van De Villiers Graaff. “Sorg dat jy R400 in jou sak het. Jy staan teen John Vorster in Nigel.” Viljoen het hom geantwoord: “Jy stuur my slagpale toe, maar ek sal gaan.” Hy het 2 508 stemme teenoor Vorster, wat eerste minister was, se 7 000 gekry en in die proses die Herstigte Nasionale Party (HNP) behoorlik met 1 847 stemme verslaan.
Terugskouend voel Viljoen dat al sy moeite en persoonlike opofferings die moeite werd was en dat geld of aansien nooit vir hom prioriteit was nie. “Ek wou ‘n geleentheid help skep waarbinne landsburgers kon saamwerk en mekaar respekteer.”
Viljoen het die slothoofstuk van die eerste Afrikaanse biografie oor Jan Smuts geskryf. Jan Smuts van Boerseun tot Wêreldverhoog is deur Kobus du Pisanie as redakteur met die hulp van 20 outeurs geskryf en verlede jaar uitgegee. Viljoen het groot respek vir Smuts as eerste minister van die Unie van Suid-Afrika, staatsman, filosoof en strateeg gehad. “Jan Smuts was ‘n eerlike, opregte en eenvoudige mens. Hy was hoogsintelligent, maar het dit nooit misbruik om ander in die verleentheid te stel nie en was ‘n meesterstrateeg.”
Hoewel die naam Klasie Viljoen nie in die politieke geskiedenisboeke in groot opskrifte opgeteken is nie, het hy ‘n merkwaardige rol gespeel in begrippe wat vandag as rekonsiliasie en versoe­ning bekendstaan.

Storie en foto: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

 

Exit mobile version