Feesmaal vir twaalf, alles vir goeie doel

‘n Gesellige gekook, -klits en -kuier was op die lys van bestanddele toe drie plaaslike sjefs verlede Vrydagaand agter die kospotte in die kombuis van ‘n woning in Polokwane ingeskuif het om 12 gaste se voete onder hulle uit te slaan. Die feesmaal was die uitslag van ‘n bod wat tydens ‘n onlangse fondsinsameling ten …

‘n Gesellige gekook, -klits en -kuier was op die lys van bestanddele toe drie plaaslike sjefs verlede Vrydagaand agter die kospotte in die kombuis van ‘n woning in Polokwane ingeskuif het om 12 gaste se voete onder hulle uit te slaan. Die feesmaal was die uitslag van ‘n bod wat tydens ‘n onlangse fondsinsameling ten bate van die behandeling van kankerlyer, Ansa van der Walt, ingesit is.
The 3 Adorable Chefs – Dirk Liebenberg, Marjorie Knoetze en Christo Hildebrandt – het verlede Vrydagmiddag die kombuis van die Du Plessis-woning betrek en hul onderskeie liefdesverhoudings met kos deur elk van die vier gange op die spyskaart laat deurskemer.
Nadat die bod op die dag van die fondsinsameling op sy kookvernuf toegeslaan is, het Liebenberg (Limpopo Toyota Braai Knights-beoordelaar en ‘n finansiële adviseur) die hulp van Knoetze (lid van die eerste Limpopo Toyota Braai Knights-wenspan) en Hildebrandt (Limpopo Toyota Braai Knights-kompetisiebeoordelaar en operasionele bestuurder by Protea Hotel Ranch Resort) ingeroep wat nie net ‘n voorliefde vir kosmaak deel nie, maar ook liefdadigheidswerk doen.
Dit was die eerste keer wat hulle saam kook, maar hulle het volgens Liebenberg dadelik gekliek omdat hulle ‘n aanvoeling het vir dit wat hulle saam in die kombuis doen. Die span het ongeveer 17:30 met die voorbereidings begin en die eerste gereg sou sowat drie uur later bedien word.
Vir Elizabeth du Plessis, op wie die bod van R3 600 vir ‘n aandete tydens die fondsinsameling toegeslaan is, haar man, André en hul tien gaste was al die disse ‘n verrassing. Benewens Adrie Booysen, Elizabeth se suster wie vooraf die geheim oor die doel van die samesyn moes help bewaar, het die ander gaste dié aand niksvermoedend opgedaag vir ‘n geselligheid.
Elizabeth, ‘n streeksrisikobestuurder by ‘n bankgroep, het vooraf opgemerk dat dit lekker was om iemand te hê wat die voorbereidings vir die aand se feesmaal kon doen en dat sy kon terugsit.
Onderwyl daar aan een van die lae vir die sop geklits is, het Liebenberg verduidelik dat elke dis vars voorberei is en daar verder met kruie uit sy tuin gewerk is. Elders in die oopplanvertrek is die kalm gewerskaf voortgesit terwyl die sjefs hul take met strenge toewyding uitgevoer het.
Nodeloos om te sê, elke gereg het aangenaam verras; van die gedekonstrueerde groentesop tot die unieke marlyn wat vir doeleindes van die voorgereg sy weg van Sodwana af gevind het, tot die beesfillet met rooiwyn en murg-jus en die espresso-karamel entremets vir nagereg. Liebenberg het in ‘n oorsig oor die gange genoem dat die geur van die sop in verskillende kleure met room, sprietuie en knoffel croutons verhoog is.
Intussen is die marlyn met sesamsaad en brandrissie vooraf in peper gerol, geskroei en op ‘n laag komkommerjulienne en avokadopeer bedien.
Vir die hoofgereg is porsies beesfillet vooraf in olyfolie, tiemie and swartpeper gelê en met ‘n sous – gemaak van ‘n aftreksel van rooiwyn, port en murg – asook duchess-aartappels en ‘n verskeidenheid groente voorgesit.
Individuele nageregporsies wat die geure van koffie en karamel suksesvol byeengebring het, sou die Franse trots gemaak het op dié tradisionele soetigheid wat die aand se kulinêre reis afgesluit het.

Storie en foto’s: YOLANDE NEL
>>observer.yolande@gmail.com

Marjorie Knoetze leer by Christo Hildebrandt.
Gashere, André en Elizabeth du Plessis, vereer hul vriende met ‘n gebruiklike liedjie.
Christo Hildebrandt agter die kospotte.
Marjorie Knoetze skenk aandag aan die tafelplasings.
Gasvrou, Elizabeth du Plessis (regs) en Annatjie Joubert, sien uit na die verassingsete.
Gaste, Hanlie Serfontein en Maggie Lister voor Vrydagaand se feesmaal ‘n aanvang naam.
Gaste, Adrie Booysen en Antoinette van den Broek.
Dirk Liebenberg besig met die voorbereiding van die sop.
Die sogenaamde Boepens Broers, jare lange vriende en wenners van Pietersburgklub se potjiekoskompetisie in onderskeidelik 2014 en 2017. André du Plessis (naasregs), André van den Broek (links) en Danie van Niekerk (naaslinks) Vrydagaand in gesellige luim saam met gas, Nico Serfontein.
Exit mobile version