Ma- en seunspan geniet elke oomblik saam as kollegas

Vir Leahan Retief en sy ma, Erika, wat daarin glo om altyd voluit te leef is dit elke dag Moedersdag. Erika is die eienaar en prinsipaal van Huizemark en ma van drie seuns waarvan Leahan (27) die oudste is. Jaco, (23) is aan die stuur van ‘n letterskilderbesigheid terwyl die jongste, Innes (21) in die …

Vir Leahan Retief en sy ma, Erika, wat daarin glo om altyd voluit te leef is dit elke dag Moedersdag.
Erika is die eienaar en prinsipaal van Huizemark en ma van drie seuns waarvan Leahan (27) die oudste is. Jaco, (23) is aan die stuur van ‘n letterskilderbesigheid terwyl die jongste, Innes (21) in die boubedryf is.
Sy is sedert 2010 in die eiendomsmark en het in Desember 2015 Huizemark in Polokwane begin. In Januarie 2016 het Leahan by haar aangesluit.
Alhoewel Erika aan die stuur is doen elkeen hulle eie verkope en Leahan werk soos enige ander agent vir sy salaris. Hy meen hulle het nie ander of spesiale uitdagings om saam te werk nie, behalwe dat sy ma hom te goed ken en weet wanneer om hom te dryf.
‘n Groot voordeel om sy ma aan die stuur te hê, is dat hy nie nodig het om ‘n verlofvorm in te vul as hy soms wegloop om te gaan jag nie, sê hy skertsend.
“My ma se uithouvermoë staan uit, sy hou altyd moed en sien die positiewe sy van die lewe. Sy kan soms ongeduldig raak, maar hanteer dit professioneel. Ons ondersteun en respekteer mekaar. Sy het ons geleer om voluit te leef en die klein dingetjies te geniet.”
Erika sê haar seun se beste eienskap is stiptelikheid en hardwerkend­heid. “My engeltjies het mos nie foute nie, hulle vlerke val soms af, maar dan plak ek hulle weer vas.”
Sy meen moederskap is ‘n absolute voorreg. “Ek glo die liewe Vader het moeders geskape om hul kinders onvoorwaardelik lief te hê. Soms is dit moeilik en ons het groot uitdagings, maar neem dit dag vir dag en leef voluit.”
Moederskap beteken vir haar om seker te maak dat daar geleenthede vir haar kinders geskep word en balans in die lewe te behou. “Ek is op my gelukkigste as ons almal vir ‘n naweek weggaan of net om die etenstafel kuier.”

Storie en foto: KAREN VENTER
>>karen@observer.co.za

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version