Akrobatiese danser hou van jag en boer

Die skaam 13-jarige is mal oor akrobatiese dans en beoog om eendag met sampioene te boer. Anandré Minnaar volg in haar ma, Adri, se voetspore en het as vierjarige begin dans. Die afgelope jaar word sy deur Olivia Fox-Venter van Fun Dance Company afgerig. Fox-Venter en Adri het jare gelede saamgedans toe hulle nog op …

Die skaam 13-jarige is mal oor akrobatiese dans en beoog om eendag met sampioene te boer.
Anandré Minnaar volg in haar ma, Adri, se voetspore en het as vierjarige begin dans. Die afgelope jaar word sy deur Olivia Fox-Venter van Fun Dance Company afgerig. Fox-Venter en Adri het jare gelede saamgedans toe hulle nog op skool was.
Tydens die onlangse jaarlikse Akrobatiese Federasie van Suid-Afrika (Afsa)-eksamen is sy gekies om aan die Afsabeurs oudisies deel te neem. “As sy daar kwalifiseer gaan sy deur na die volgende rondte wat as ‘n gala-aand in Pretoria aangebied word waar sy moontlik ‘n beurs kan wen wat ‘n kontantprys vir dansopleiding is. Dié prestige kompetisie is gereserveer vir die beste akrobatiese dansers in die land,” sê Fox-Venter.
Haar doelwit is om baie hard te werk en hopelik volgende jaar volpunte vir haar Afsa-danseksamen te kry en provinsiale kleure te verwerf. Sy wil ook vanjaar met akrogimnastiek begin wat ‘n groot uitdaging.
Fox-Venter sê Anandré is ‘n harde werker en perfeksionis. “Ek is baie trots op haar en die feit dat sy genooi is vir die oudisies van die Afsabeurs.”
Anandré is in graad 7-leerder van Laerskool Pietersburg-Oos en ‘n leier. Sy is ook ‘n hokkiespeler en uitblinker wat die afgelope drie jaar op die hokkieveld uitdraf. Vanjaar is sy deel van die skool se eerstespan en die derde jaar ‘n lid van die Limpopospan.
Sy sien baie uit na die uitdagings van die hoërskool en kan nie wag om as graad 8-groentjie by Hoërskool Pietersburg aan te sluit nie.
Al hou sy van dans en die verhoog bly sy steeds ‘n plaasmeisie wat saam met haar ouers en tweelingboetie en sussie op ‘n jagplaas buite Polokwane woon.
“My pa, Roelof, boer met sampioene en ‘n verskeidenheid groentesoorte. Ek wil eendag self met sampioene boer en is baie lief vir die bosveld. My gunstelingvak is nie verniet natuurwetenskap nie,” sê sy.
Haar Yorkie, Trompie, volg haar soos ‘n skaduwee as sy op die plaas bedrywig is. Een van haar stokperdjies is jag. Sy geniet dit veral om saam met haar pa te jag en hoop om binnekort ‘n koedoe te skiet.
Anandré geniet dit om saam met haar maats in haar vrye tyd te kuier. “Ons is soms saam op die plaas, of gaan na ‘n winkelsentrum en kyk fliek of eet pizza, my absolute gunsteling.”

Storie & foto: KAREN VENTER
>>karen@observer.co.za

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button