Meestersatleet, Antonette Jordaan, ryg ses medaljes in by nasionale kampioenskappe

Antonette Jordaan se grootste verwagtinge is die naweek ver oortref toe sy met vyf goue- en ‘n silwermedalje van die Suid-Afrikaanse Meestersatletiek (Sama)-kampioenskappe in Bloemfontein teruggekeer het. Die oorwinnings was soveel bete­kenisvoller omdat sy twee dekades gelede as 26-jarige kompeterende atleet die atletietiekarena weens kanker moes verlaat en haar op afrigting toegespits het. Met dié …

Antonette Jordaan se grootste verwagtinge is die naweek ver oortref toe sy met vyf goue- en ‘n silwermedalje van die Suid-Afrikaanse Meestersatletiek (Sama)-kampioenskappe in Bloemfontein teruggekeer het.
Die oorwinnings was soveel bete­kenisvoller omdat sy twee dekades gelede as 26-jarige kompeterende atleet die atletietiekarena weens kanker moes verlaat en haar op afrigting toegespits het.
Met dié merkwaardige prestasie het Jordaan, ‘n wiskunde-onderwyser van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, nasionale kleure verwerf en gekwalifiseer om saam met nog ‘n plaaslike meestersatleet, Smit van Zyl, in September aan die Meesters Wêreldkampioenskappe in Spanje deel te neem.
Jordaan het die vyfkamp, spiesgooi, gewigstoot, gewiggooi, en diskus gewen en ‘n tweede plek in die hamergooi behaal.
Boonop is die nasionale meesters­rekords binne haar bereik en sy hoop om binnekort minstens een of twee agter haar naam te skryf.
Al haar pogings was verder as die kwalifiserende standaard behalwe in hamergooi.
Die veiligheidsnette met ‘n klein gaping waardeur die hamer trek het haar konsentrasie verbreek omdat sy gewoond is om op ‘n oop rugbyveld te oefen, maar sy het vinnig haar kop reggekry en steeds presteer.
“Van Zyl het my onlangs aan meestersatletiek bekendgestel en ek het in Februarie vir die eerste keer in 20 jaar weer deelgeneem, nogal aan die Gauteng Seniorkampioenskappe en besef waarop ek al die jare uitgemis het.
“In Maart het die Meesterkampioenskappe op die Pilditch Stadion in Pretoria gevolg deur die onlangse kampioenskappe wat ‘n wonderlike ervaring was.”
Twee weke voor die Sama-byeenkoms het sy vir die eerste keer met hamer- en gewiggooi kennis gemaak.
“Van Zyl het my bietjie touwys gemaak oor die tegniese aspekte en die res het ek op die internet opgesoek en toegepas. Diskus en gewigstoot bly my gunstelingitems.”
Jordaan sê sy het weer eens besef dat baie mense velditems onderskat en dit nie altyd dieselfde blootstelling as baanitems kry nie.”
Die rolverskuiwing is vir haar die lekkerste deel van die kampioenskappe.
“Ons is gewoond aan ouers wat hul kinders aanmoedig, maar nou is dit ongelooflik om te sien hoe kinders hul ouers aanpor en ondersteun. Die wêreld van meesters is ‘n belewenis – almal is ondersteunend en atlete motiveer mekaar.
“Dit is glad nie ‘n kompeterende atmosfeer soos dié van skoleatletiek nie.”
Haar advies aan atlete is om te begin ongeag jou ouderdom.
“Daar is nog geleentheid om aan atletiek deel te neem. Ek kan meestersatletiek vir enige persoon wat nog wil deelneem, aanbeveel.”
Ander presteerders
Van Zyl het twee goue medaljes vir paalspring en tienkamp en ‘n bronsmedalje vir vyfkamp verwerf.
Hoërskool Pietersburg (PHS)-hoof, Willie Schoeman het ‘n goue medalje in verspring behaal, maar nie gekwalifiseer om in Spanje deel te neem nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button