Groot applous vir Simfonia Juventi se jongelinge

Simfonia Juventi het gaste Saterdagaand tydens hul konsert by Bolivia Estate ten bate van die Gereformeerde Susters Pietersburg-Noord beïndruk. Die gewilde Suid-Afrikaanse jeugorkes het in 1981 tot stand gekom en bestaan uit 103 musikante van 29 verkillende skole uit Limpopo, Gauteng, Noordwes en Mpumalanga. Violis, Stephan de Lange, ‘n graad 11-leerder van Hoërskool Pietersburg is …

Simfonia Juventi het gaste Saterdagaand tydens hul konsert by Bolivia Estate ten bate van die Gereformeerde Susters Pietersburg-Noord beïndruk. Die gewilde Suid-Afrikaanse jeugorkes het in 1981 tot stand gekom en bestaan uit 103 musikante van 29 verkillende skole uit Limpopo, Gauteng, Noordwes en Mpumalanga.
Violis, Stephan de Lange, ‘n graad 11-leerder van Hoërskool Pietersburg is tans die enigste lid van die orkes uit Limpopo en is al vier jaar deel van die orkes.
Eddie Clayton is die nuwe dirigent wat Fanie Jooste na 25 jaar opgevolg het en die konsertmeester is Lusanti Brundyn.
Die optrede het met die Egmont Ouverture van Ludwig van Beethoven begin, wat gevolg is deur treffermelodieë uit Swanemeer van Tschaikovsky asook Ierse dansmusiek en die temamusiek uit ‘Superman’.
Veral Intermezzo uit Cavalleria Rusticana van Pietro Mascagni het luide applous uitgelok. Begaafde tjellis, Christof Joubert, en violis, Catherine Stiff, het onderskeidelik in ‘Elfentanz’ van David Popper en die Allegrogedeelte uit Felix Mendelssohn se Vioolconcerto in E-mineur as soliste opgetree.
Stephan se ma, Sandra sê die orkes oefen gereeld saam gedurende skoolvakansies en tree dikwels by liefdadigheidsfunksies op. “Die orkes se basis is Pro Arte Alphen Park in Pretoria en Stephan neem soms sy skoolboeke saam om iewers ‘n tydjie af te knyp om sy skoolwerk in te haal. Hy koester die kameraadskap en spangees wat hy van die eerste dag af by die ander orkeslede ervaar het.”
Die orkes het ook Vrydag ‘n gratis optrede vir leerders by Bolivia Estate gehou.

 

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Violis, Stephan de Lange, is ‘n graad 11-leerder van Hoërskool Pietersburg is al vier jaar ‘n orkeslid.
Violis Catherine Stiff speel die Allegrogedeelte uit Felix Mendelssohn se Vioolconcerto in E-mineur as solis.
‘n Deel van Simfonia Juventi Jeugorkes.

Related Articles

Back to top button