Rinelda, ‘n gerekende atleet met Olimpiese Spele-drome

Sy werk hard om haar atletiekdrome te verwerklik, maak groot opgang in velditems en is gekies om in Junie en Julie ‘n atletiektoer na Europa te onder­neem om teen internasionale atlete mee te ding. Hierna sien Rinelda van der Linde (14), ‘n graad 9-leerder van Hoërskool Pietersburg, met groot verwagting uit. “Ek is begeesterd omdat …

Sy werk hard om haar atletiekdrome te verwerklik, maak groot opgang in velditems en is gekies om in Junie en Julie ‘n atletiektoer na Europa te onder­neem om teen internasionale atlete mee te ding.
Hierna sien Rinelda van der Linde (14), ‘n graad 9-leerder van Hoërskool Pietersburg, met groot verwagting uit.
“Ek is begeesterd omdat die toer my gaan help om ervaring op te doen en my tegniek te verbeter. Om wêreldbekende Olim­piese-atlete te ontmoet en raad by hulle te kry is byna te goed om waar te wees.”
Rinelda se veelsydigheid word onderstreep deur die feit dat sy gekwalifiseer het om verlede maand in beide diskus- en gewigstoot haar staal tydens die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe in Potchefstroom te wys. Al het sy met be­seerde ligamente in haar hand deelgeneem, het sy ‘n negende plek in gewigstoot en ‘n 14de plek in diskus behaal.
Tydens die Limpopo Atletiekkampioenskappe vroeër het sy haarself as beste o.15-atleet in gewigstoot en naasbeste diskusatleet in die provinsie gevestig.
Tydens die Janus Robberts Kampioenskappe verbeter sy die diskusrekord van 28,00 m na 32,78 m. Met die Tuks Top 10-byeenkoms wen sy twee goue medaljes. Een in diskus met ‘n persoonlike beste afstand van 38,72 m en een in gewigstoot met ‘n afstand van 12,21 m, alhoewel haar persoonlike beste 14,18 m is wat sy by ‘n byeenkoms in Pretoria behaal het.
Rinelda se afrigter, Antonette Jordaan, onder wie se bekwame leiding sy van Maandae tot Donderdae ‘n uur per dag en Saterdae vir sowat twee ure oefen, is haar groot steunpilaar. Tussendeur oefen en draf sy tuis op haar eie.
Sy verkies diskus bo gewigstoot omdat dit haar help om van haar frustrasies ontslae te raak. Akademie word egter nie agterweë gelaat nie, want sy beplan om na skool verder te studeer.
“Hoewel ek ‘n aanleg vir tale het, is my gunstelingvak geskiedenis. Ek oorweeg dit om ‘n onderwyser te word en my atletiekloopbaan daarby in te pas. My grootste droom is om Olimpiese Spele toe te gaan,” sê sy.
Haar inspirasie is haar oorlede pa, Willem van der Linde. “My pa het nooit opgehou veg nie en ek het sy veggees geërf. “Twee weke na sy dood in Oktober 2014 het ek twee silwer medaljes in die Super 12 Atletiekbyeenkoms in Gauteng verower. My motivering is om sy herinneringe daardeur te koester, omdat hy my altyd bygestaan en help oefen het. Sy sterk deursettingsvermoë inspireer my om nooit op te gee nie.”
Die einste vasbytter se raad aan jong atlete is om nie moed te verloor nie en te bly glo. “Druk deur, jy kan dit doen en moet nooit ‘n ego kry oor jou prestasies nie, want dan gaan jy nie op die lang termyn sukses behaal nie. Die Here was nog altyd daar vir my en het my wonderlike talente gegee wat ek moet gebruik en met ander deel.”
Iets wat niemand van haar weet nie is dat sy hoogtevrees het, maar eendag tog wil aantree vir ‘n hoë reksprong.

Storie en foto: KAREN VENTER
>>karen@observer.co.z

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button