Limpopo Landbou Forum Veiligheid lê aksieplan voor

TLU SA Noord en Agri Limpopo het reeds in 2015 organisatoriese grense afgebreek en veral op landelike veiligheidsgebied begin saamwerk.

MOKOPANE – Hierdie samewerkingspoging het ook onbetrokke landbouers en privaat sekuriteitsmaatskappye en op plekke ook Gemeenskapspolisiëringsforumstrukture (GPF) ingesluit. Die liggaam wat hieruit tot stand gekom het, staan in landelike veiligheidskringe in Limpopo bekend as Limpopo Landbou Forum Veiligheid (LLFV).

Die groep word deur die provinsiale polisie bevelstruktuur erken as die verteenwoordigende landelike veiligheidstruktuur en verteenwoordig die leiersgroep ook landelike veiligheid op die landelike veiligheid-prioriteitskomitee wat kwartaalliks met die polisie en ander rolspelers vergader.

LLFV het op 30 Januarie hulle eerste vergadering vir die jaar gehou. Daar was verteenwoordigers van regoor die provinsie. Die gebiede wat nog nie verteenwoordiging op die struktuur het nie, sal binnekort besoek word om hulle deelname aan die forum aan te moedig.

‘n Landelike veiligheidsaksieplan is tydens die vergadering geformuleer wat op 7 Februarie aan die provinsiale kommissaris voorgelê is vir implementering gedurende 2018.

Dié plan berus sterk op die Limpopo Landelike Veiligheidsplan van die provinsiale polisie wat gedurende September 2017 uitgereik was en deur alle rolspelers onderteken is. LLFV se aksieplan vir vanjaar het daarom ten doel om aan die Provinsiale Landelike Veiligheidsplan uitvoering te gee.

Die aksieplan vir 2018 berus verder op goeie samewerking tussen landelike veiligheidstrukture en die polisie vanaf stasievlak tot by die provinsiale kommisaris, deur alle bevelskanale van die polisie te volg.

Die bestuur en lede van LLFV in samewerking met die provinsiale polisie is oortuig dat die aksieplan en die Provinsiale Landelike Veiligheidsplan tot beter landelike veiligheid sal lei. Limpopo se ekonomie steun swaar op landbou en landboubedrywe en dit kan slegs binne ‘n veilige omgewing tot sy volle reg kom.

Enige landelike veiligheidstruktuur of plaaswag wat nog nie deel van LLFV is nie, word uitgenooi om die kantoor van Agri Limpopo by (015) 065 0669 of 082 451 7913 of die Streekkantoor van TLU SA Noord by 082 555 4553 of 082 774 9287 te skakel, sodat hulle deel van die Limpopo Landelike Veiligheidstruktuur kan word en daardeur erkenning kan kry by die provinsiale polisiebevelstruktuur.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button