Nuwe begin vir Hieb breek aan

Werksaamhede by Hulp in elke Behoef­te (Hieb) gaan normaalweg voort, maar funksioneer vanaf 1 Maart onder Vision of Hope Foundation (VOHF). Oor dié stap is Drienie van Wyk, VOHF-voorsitter, nie net sprakeloos van dankbaarheid nie, maar ook baie opgewonde omdat die administrasie van die huishoudings wat tans kospakkies kry veel makliker is en oor­vleueling voorkom …

Werksaamhede by Hulp in elke Behoef­te (Hieb) gaan normaalweg voort, maar funksioneer vanaf 1 Maart onder Vision of Hope Foundation (VOHF).
Oor dié stap is Drienie van Wyk, VOHF-voorsitter, nie net sprakeloos van dankbaarheid nie, maar ook baie opgewonde omdat die administrasie van die huishoudings wat tans kospakkies kry veel makliker is en oor­vleueling voorkom word.
Een van Hieb se stigterslede, Adriaan Fourie, het Maandag die nuus aan Polokwane Observer bevestig en is ewe opgewonde oor die nuwe wending.
“Dit is tyd vir ‘n nuwe hoofstuk in my en my vrou, Marina, se lewe. Ons wil ons op sendingwerk, waarvan die grootste bediening tans in China is, toespits en was net die arms en bene van Hieb. Van Wyk en haar span het genoeg oemf, deursettingsvermoë en geoliede ratte om ‘n nuwe identiteit aan Hieb onder die VOHF-sambreel te gee.”
Die direksielede van Hieb het in Januarie tydens ‘n vergade­ring besluit dat hul halt gaan roep en dat ‘n geskikte persoon of organisasie moet voortgaan met die werksaamhede waar kospakkies tweeweekliks aan sowat 30 behoeftige huishoudings uitgedeel word. “Die bates, donateurs, kosskenkings en trustfonds van Hieb is aan VOHF oorgedra wat met die werksaamhede voortgaan, maar die entiteit behoort aan die NG Kerk Pietersburg-Noord en die ring van die NG Kerk,” sê Adriaan.
Van Wyk verduidelik dat Petro du Preez van Pietersburg Hulpgroep (PHG) as deel van VOHF die totale 103 huishoudings se besoeke hanteer om die nood, al dan nie, te bepaal en op ‘n databasis te plaas. Vandaar hanteer en köordineer Van Wyk en Du Preez die donasies en hulp gesamentlik verder met hul lede.
Hulpbehoewende gesinne wat baat vind by Hieb se kospakkies word steeds vanaf die NG Kerk Renosterpoort se terrein versprei.
Skakel Van Wyk vir verdere navrae by 083 495 3959.

Storie en foto: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

 

Exit mobile version