Berge word versit wanneer ‘n gemeenskap saamstaan

Danksy ongekende samewerking is 42 550 l water reeds onderweg na Kaapstad om die rimpeleffek van die stad se grootste waterkrisis in 350 jaar te help verlig. Nog 29 465 liter is onderweg. Sophia Hislop, uitvoerende direkteur van Uniclox, het die inisiatief Januarie in Polokwane begin omdat die waterkrisis in die Wes-Kaap tans die grootste …

Danksy ongekende samewerking is 42 550 l water reeds onderweg na Kaapstad om die rimpeleffek van die stad se grootste waterkrisis in 350 jaar te help verlig. Nog 29 465 liter is onderweg.
Sophia Hislop, uitvoerende direkteur van Uniclox, het die inisiatief Januarie in Polokwane begin omdat die waterkrisis in die Wes-Kaap tans die grootste in die land is al gaan ander provinsies ook onder waterskaarste gebuk.
“Wat my hart van die projek roer, is dat dit nie saak gemaak het waar jy bly, skoolgaan, werk, aanbid of aan watter politieke party jy behoort nie. Om die groei van dag een af te sien het my grootste verwagtinge oortref. Dis lekker om erkenning te kry wanneer daar hard gewerk word aan ‘n projek, maar Uniclox was bloot die inisieerder van ‘n idee. Daarna moes ons wag, hoop en vertrou dat die gemeenskap sal inkoop, en hulle het, bo verwagting.
Die erkenning gaan aan elke kleuter wat met moeite sy 5 l-bottel aangedra het skool toe tot die groot besighede wat bakkievragte water aangery het. Mense het op ander maniere bygedra wat nie in ‘liters’ gemeet kan word nie, maar van onskatbare waarde is soos ZZ2 wat sonder huiwering hul trok tot ons beskikking gestel het,” sê Hislop.
Polokwane is volgens haar ‘n stad wat deur sy eie mense onderskat word omdat die gemeenskap ongekend kan saamwerk en ‘n verskil kan help maak waar die nood die grootste is. “Volgende keer is dit dalk ‘n ander stad of provinsie, dan help ons almal weer.”
Tafelronde TP 151 in Pretoria het van meet af aan groot insette gelewer en beraam die waarde van die projek op R250 000.
Die vervoerbestuurder van ZZ2, Japie Burger, het aan Polokwane Observer gesê hul maatskappy het ‘n trok met ‘n 36-paletsleepwa met seile beskikbaar gestel omdat hul betrokke in die gemeenskap is en graag help waar hulle kan. “Mense wat nie drinkwater het nie, beleef groot nood. Almal moet help.”
Volgens Hislop word vervoer nog vir die ander 29 465 l gebottelde water wat by die Uniclox-kantoor, hoek van Webster- en Marshallstraat, benodig. Besighede wat oor ‘n interlinkdiens beskik en moontlik kan help, kan Hislop by 082 325 0612 skakel.

Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Spesiale erkennnig aan:
ZZ2-trok en trokdrywer, Herman Letsoalo, Laerskool Pietersburg-Oos, H2O International Limpopo – skenk ‘n liter water vir elke liter by hul aangekoop, Corestruc, Talisman Hire, The PavillionFamily Restaurant, Granor Passi, Jacks Paints, Modern Packaging, Elegant Fuel, IFA, Frank Hislop (sr).
Waterskenkings – hoeveelheid 5 l – houers:
H2O International Limpopo – 1 451
Laerskole Pietersburg-Oos – 2 299, Piet Hugo 603, Ivypark – 158, Curro
Heuwelkruin – 202, Suikerbekkie Kleuterskool – 54, Pietersburg English Medium Primary School (Pemps) – 300 en Tafelronde Tzaneen – 1 800.
Aïda Polokwane, NG Kerk Pietersburg-Noord, Elegant Fuel, King Pie, Ereveldwagters, Caltex Ivypark, Bidvest, Select Projects, Bryte Insurance, Linde & Viljoen Konsultante, H Pretorius en L Booysen.
Dit sluit die bottels uit wat afgegee is by Uniclox sedert die begin van die projek asook geldskenkings waarmee water aangekoop is.

Danksy die meewerking van instansies, skole, kleuterskole, kerke en individue in Polokwane en selfs Tzaneen is 60 665 l geseëlde water Donderdag na Gauteng vervoer wat deur Water Shortage South Africa na Kaapstad vervoer sal word om in die Weskaap se dringendste waternood te voorsien en Dag Zero te help uitstel.

 

Laerskool Pietersburg-Oos hoofleiers, Nelieq Groenewald, Cailin Menzies en Izelna Venter. Agter is Michelle van der Westhuizen, leiervoog, Lizette Olivier, adjunkhoof, C Wilters, graad RC-voogonderwyser van dié klas wat meeste water ingesamel het (266 houers), Sophia Hislop, projekleier, Braam Swanepoel, Jan-Hendrik Venter en Reuben Weyer.
Sophia Hislop, uitvoerende direkteur van Uniclox en projekleier van die waterinisiatief met Petrus, Annie en Gawie de Wet, leerders van Laerskool Pietersburg-Oos.
Hislop,voor, met Celia Spaumer, algemene bestuurder van Elegant Fuel en Isaac Malebogo, assistent-bestuurder van Elegant Fuel. Die maatskappy het ‘n reuse rol vervul in die hele projek.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version