Plaaslike stoeier, Terry van Rensburg op pad na State­- bondspele

Toe die 23-jarige Terry van Rensburg ongeveer 15 jaar gelede begin stoei het, het hy nie gedink sy passie en talent vir dié sport sal so toeneem dat hy internasionaal naam sou maak nie. As lid van die plaaslike Ion Baciu Stoeiklub wat al 19 keer as Suid-Afrikaanse- en twee keer as Afrikakampioen aangewys is, …

Toe die 23-jarige Terry van Rensburg ongeveer 15 jaar gelede begin stoei het, het hy nie gedink sy passie en talent vir dié sport sal so toeneem dat hy internasionaal naam sou maak nie.
As lid van die plaaslike Ion Baciu Stoeiklub wat al 19 keer as Suid-Afrikaanse- en twee keer as Afrikakampioen aangewys is, het Van Rensburg Saterdag gehoor dat hy gekies is om sy land by die Statebondspele, wat in April in Australië gehou word, te verteenwoordig.
Van Rensburg het in Desember tydens die Statebondkampioenskappe in Johannesburg ‘n silwer medalje in die 65 kg-vrystylkategorie vir mans verwerf wat hom ‘n kans gegee het om in die span ingesluit te word. “Ek was baie opgewonde toe ek Saterdag die nuus ontvang. Dit is ‘n lekker uitdaging wat voorlê en ek gaan my bes doen om ‘n medalje huis toe te bring.”
Internasionale mededinging is vir hom niks nuuts nie. In 2010 het hy by die Jeug Statebondspele in Singapoer ‘n goue medalje gewen en in 2014 is hy gekies om aan die Statebondspele in Skotland deel te neem.
“Voor ek begin stoei het, het ek vreeslik slap gelê en in die strate rondgedwaal. Gelukkig het ek besluit om iets te doen om myself uit die moeilikheid te hou en by die klub aangesluit omdat stoei iets anders was. Elke geveg bied ‘n ander uitdaging omdat nie een van jou opponente dieselfde tegniek gebruik nie. Jy moet jou hele lyf van jou kleintoontjie tot jou brein gebruik om ‘n teenstander uit te oorlê. Wat dit interessanter maak is dat stoei net van jouself afhang omdat dit ‘n eenmansport is sonder spanlede wat kan help.”
Van Rensburg meen sukses lê in harde oefening en breinkrag. “Die ondersteuning van familie, vriende, klublede en my uitstekende afrigter, Jan Roets, speel ‘n reuse rol in my sukses. Dit is ongelooflik om te sien hoe mense omgee en jou op ‘n mooi manier druk om altyd beter te doen,” meen Van Rensburg wat bykans daagliks by die klub oefen en soggens tyd in ‘n gimnasium spandeer.
Volgens hom is ‘n goeie stoeier nederig, hardwerkend en aanpasbaar. “Jy moet vinnig besluite tydens ‘n geveg neem omdat elke opponent uniek is en jy slegs twee rondes het om jou opponent te klop. Jy moet vinnig sy manier van stoei uitpluis en daarvolgens stoei. Ek is ‘n aanvallende stoeier en probeer op dié manier ‘n teenstander eerste grond toe bring.”
Elke eerste geveg tydens ‘n kampioenskap of toernooi is vir hom ‘n uitdaging. “Ek luister vooraf musiek om rustig te raak, maar sodra die eerste kragmeting verby is en ek gewen het, is ek reg vir enigiets.”
Hy slaan die mite dat stoei ‘n sport vir aggressiewe mense is die nek in en beskryf homself as saggeaard. Hy hou net nie daarvan dat mense hom onderskat nie en ook nie van langtermynbeplanning nie, omdat dit sy fokus van die hier en nou afhaal. Tans spits hy hom net op die komende Statebondspele toe.
Van Rensburg praat net met lof van
Roets en dink hy is een van die beste afrigters in die land. “Hy doen moeite met stoeiers, veral as jy bereid is om hard te werk. Hy laat jou baie hard sweet, maar dit voel of jy een van sy eie kinders is.”
Sy pa, Mossie Jongbloed is sy rolmodel omdat hy hom geleer het om altyd gefokus te bly, hard te werk en nie van die regte pad af te dwaal nie.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

 

Related Articles

Back to top button