PHS se ystervrou nou adjunkhoof van skool

Sy word as Hoërskool Pietersburg (PHS) se eie ystervrou beskryf, maar vir die beskeie Ina van der Merwe wat onlangs as adjunkhoof aangestel is, gaan dit nie oor geld, posbeskrywings of aansien nie, maar oor die uitleef van haar passie vir onderrig en liefde vir kinders wat haar elke oggend doelgerig laat opstaan. “Ek is …

Sy word as Hoërskool Pietersburg (PHS) se eie ystervrou beskryf, maar vir die beskeie Ina van der Merwe wat onlangs as adjunkhoof aangestel is, gaan dit nie oor geld, posbeskrywings of aansien nie, maar oor die uitleef van haar passie vir onderrig en liefde vir kinders wat haar elke oggend doelgerig laat opstaan.
“Ek is vreeslik opgewonde oor die nuwe aanstelling en sien uit na die uitdagings, maar vat dit dag vir dag totdat ek my voete gevind het. Ek is baie entoesiasties oor die lewe – niks kry my onder nie. Dit is hoekom ek nuwe uitda­gings aangryp om vir kinders die beste milieu vir kwaliteitonderrig te skep. Daar is soveel geleenthede om innoverend te dink,” meen Van der Merwe.
Sy wil glad nie met haar nuwe aanstelling net in ‘n kantoor agter ‘n lessenaar sit nie omdat sy grootliks by die leerders betrokke wil bly. Daarby is sy steeds die graad 12-graadvoog en Afrikaans onderwyser, steeds die Afrikaans departements­hoof, steeds by hokkie-afrigting betrokke én by die organisering van die matriekafskeid. “Ek geniet elke oomblik by die skool omdat ek hier hoort. Na ‘n vakansie kan ek nie wag om weer tussen die kinders te wees nie.”
Sy sonder die geleentheid wat sy as onderwyser het om ‘n verskil in kinders se lewens te maak as ‘n kleinood uit. “Die lekkerste is as ‘n oudleerder terugkom en vir jou sê hoe hulle jou raad en die waarde wat jy tot hul lewens toegevoeg het waardeer.”
Oor veranderinge by die skool sê Van der Merwe dat sy graag wil sien dat al die sportkodes nog hoër hoogtes bereik en dat daar vanjaar spreiligte by die Astrobaan opgerig word sodat dié hokkiebaan ook saans gebruik kan word.
Volgens haar lê PHS se sukses in die wonderlike personeelkorps, ondersteuning van die ouers en die gemeenskap en die doeltreffende en positiewe gesindheid van die beheerliggaam. “Kollegas is my steunpilaar omdat ek enige tyd op enigiemand se knoppie kan druk. Saam met ouers, die beheerliggaam en ‘n dinamiese skoolhoof sorg hulle dat PHS leiding in Limpopo neem en in pas met die nuutste verwikkelinge in onderwysgeledere bly en sonder twyfel enige uitdaging kan oorkom.”
Van der Merwe het in 1995 deel van die PHS-span geword en is die afgelope 10 jaar die Afrikaans departementshoof.
Hoofleiers, Louis Nel en Mari Geerkens beskryf haar as hardwerkend, dinamies, iemand met ‘n sterk persoonlikheid en PHS se eie ystervrou.
Linette van der Walt, kollega in die Afrikaans departement sonder Van der Merwe se veerkrag­tigheid en uitstekende menseverhoudinge uit en meen dié eienskappe maak dit vir haar maklik om enige situasie, goed of sleg, te hanteer.
“Sy bons altyd terug en kies om die oorvol glas in plaas van die halfleë raak te sien. Sy los probleme op en praat dinge uit. Sy gee ook graag eer aan ander en gun elkeen die son wat oor hul kop skyn,” meen Van der Walt
Charné Visser, haar oudste dogter sê haar ma is ‘n rolmodel en het ‘n positiewe invloed op kinders se lewens omdat sy hulle baie goed opsom en die beste uit hulle kan haal sonder om te baklei.
Van der Merwe se jongste, Izelle Delport, meen haar ma se deursettingsvermoë en positiwiteit waarmee sy alles aanpak sal haar uitda­gings in die adjunkhoofpos vergemaklik.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version