PHS se top bemarker ruil Bosveld vir Kaap

“Ouers, leerders en personeel, pas PHS op. Dit is ‘n skool met min gelyke en julle sal ver soek om ‘n soortgelyke skool elders in die land te vind.” Dit is die afskeidsboodskap van Hoërskool Pietersburg (PHS) se skakelbeampte, Anna-Marié Schoeman wat na byna nege jaar se diep spore wat sy in Polokwane getrap het, …

“Ouers, leerders en personeel, pas PHS op. Dit is ‘n skool met min gelyke en julle sal ver soek om ‘n soortgelyke skool elders in die land te vind.”
Dit is die afskeidsboodskap van Hoërskool Pietersburg (PHS) se skakelbeampte, Anna-Marié Schoeman wat na byna nege jaar se diep spore wat sy in Polokwane getrap het, besluit het om haar passie vir skolebemarking by Paarl Boys Primary verder uit te leef. Sy begin Maandag in haar nuwe pos by die skool wat ook as Klein Boishaai bekend staan.
Die beste deel van haar rol by PHS was dat sy haar idees sonder vrese of grense kon deel en toepas om Pieties se beeld uit te dra. “Alles gebeur op hoë vlak by PHS en ek is toegelaat om buite die boks te dink en uitdagings aan te pak. Hoogtepunte was be­slis die skool se 90ste bestaansjaarvieringe waar ek aan die stuur van ‘n week se feesvieringe was.
“Opedae en die samestelling van die jaarboek, die Ad Astra, was jaarlikse geleenthede waarna ek uitgesien het,” sê Schoeman.
Sy gaan die personeel en veral leerders met uitnemende lewenswaardes die meeste mis. “Sedert ons in 2008 in Polokwane aangekom het, was die stad se inwoners ons net goedgesind. Kennisse het vriende geword en ek kan nie genoeg dankie sê vir elke persoon wat ‘n verskil in my lewe gemaak het nie.”
Sy het hoë verwagtinge vir die Paarl. “Dit gaan ‘n ander lewe wees. Ek is bang, maar sien uit na nuwe uitdagings in ‘n nuwe omgewing en omstandighede. Die Kaapse lewe is soveel meer ontspanne en ek kan nie wag om nuwe vriende te maak nie.”
Sy sal Polokwane onthou as die Bosveldstad. “Dit is die beste van twee wêrelde, ‘n stadsgevoel in die hartjie van die bos. Dit is ook die beste gevoel om te weet leerders op die platteland het die geleentheid om aan ‘n skool soos PHS verbonde te wees.”
Sy het haar dank aan Polokwane-inwoners, almal betrokke by PHS en die NG Kerk Bendorgemeente vir hul ondersteuning, liefde en vriendskap uitgespreek.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button