Saartjie du Toit se passie vir mense, bemarking beloon

Bekende in welsynskringe in die stad en bestuurder van Polokwane Nasorgsentrum vir Volwasse Intellektueel Gestremdes, Saartjie du Toit, se ywer met die bemarking van Tekkie Tax-plakkers is weer onlangs bekroon toe sy die tweede keer aangewys is as Suid-Afrika se topverkoper van dié plakkers waarmee geld ingesamel word vir kinders, diere, bejaardes, onderwys en gestremdes. …

Bekende in welsynskringe in die stad en bestuurder van Polokwane Nasorgsentrum vir Volwasse Intellektueel Gestremdes, Saartjie du Toit, se ywer met die bemarking van Tekkie Tax-plakkers is weer onlangs bekroon toe sy die tweede keer aangewys is as Suid-Afrika se topverkoper van dié plakkers waarmee geld ingesamel word vir kinders, diere, bejaardes, onderwys en gestremdes.
Sy is ook tydens die Polokwane Munisipaliteit se City of Stars Awards gala-aand met ‘n spesiale toekenning vir gemeenskapsdiens vereer.
Du Toit en haar span, Adri Bronkhorst, Karabo Seketane, Susan Warren, Elizabeth Phukubje en Rachel Langa het vanjaar 22 000 plakkers verkoop in ‘n rekordpoging waarmee hulle reeds in Januarie begin woeker het. “Ek het vier jaar gelede begin en 4 000 plakkers verkoop, waarna die gogga my gebyt het. Die gemeenskap en sakelui van die stad se harte is oop vir Tekkie Tax omdat dit aan elkeen ‘n geleentheid bied om die kategorie van sy keuse te ondersteun. Verlede jaar het ons 17 000 plakkers verkoop.”
Die verkopers hou 40% van die inkomste van die verkope en kry ook ‘n verdere bydrae van die organiseerders nadat die projek voltooi is. “Dit maak ‘n groot verskil omdat ons geen staatshulp ontvang nie,” meen sy en sê dat die sentrum die tuiste van 19 permanente inwoners is terwyl ‘n verdere 13 dagbesoekers weeksdae aanmeld.
Die inwoners en besoekers hou hulle gedu­rende die dag met allerlei take besig en die goedversorgde tuin en kamers getuig daarvan dat daar vir elkeen ‘n taak geïdentifiseer word wat binne sy vermoë val. Items wat verkoop kan word, word onder toesig in die spesiaal inge­rigte werkwinkel gemaak en daar is ook ‘n paar gewillige helpers wat hand bysit wanneer etes voorberei en produkte wat as skenkings ontvang word, verwerk moet word.
Vir haar is die inwoners haar ‘kinders’ en die grootste geskenk is wanneer ‘n persoon wat as ‘n onseker en bang mens by die sentrum aankom, algaande ontluik en deel van ons groot gesin word. “Dit maak alles die moeite werd as een jou ‘n drukkie kom gee sonder om ‘n woord te sê want dan weet ek dat ek iets reg doen.”
“Dit is voorreg om met hierdie spesiale mense te werk en as mens sien met hoe min hulle tevrede is, raak jy nederig en besef hoe geseënd jy is.”
Du Toit is in 2008 by die sentrum aangestel nadat sy voorheen in die bankwese en by ‘n versekeringsmaatskappy as administratiewe beampte werksaam was.

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Saartjie du Toit met haar Tekkie­tax-span, Adri Bronkhorst en Karabo Seketane. Agter is Susan Warren, Elizabeth Phukubje en Rachel Langa.

Related Articles

Back to top button