Leoné de Kok ryg pryse in ten spyte van gebreekte heup

Elke sport het sy beserings, maar wanneer ‘n heupvervanging op 15-jarige ouderdom jou nie van uithouritte afskrik nie, het jy ‘n duidelike passie en liefde daarvoor. Leoné de Kok se talle toekennings tydens die Capricorn Uithouritklub se jaarlikse prysuitdeling getuig hiervan. Sy is nie net as junior Ruiter van die Jaar aangewys nie, maar ook …

Elke sport het sy beserings, maar wanneer ‘n heupvervanging op 15-jarige ouderdom jou nie van uithouritte afskrik nie, het jy ‘n duidelike passie en liefde daarvoor.
Leoné de Kok se talle toekennings tydens die Capricorn Uithouritklub se jaarlikse prysuitdeling getuig hiervan.
Sy is nie net as junior Ruiter van die Jaar aangewys nie, maar ook as Kampioenruiter van die Jaar en is vereer vir die meeste kilometers (844) wat sy tydens die afgelope seisoen afgelê het.
Haar liefde vir perde en uithouritte het sy van haar pa, Jaco, geërf wat self ook jare aan dié uitdagende sport deelgeneem het.
In 2015 het Leoné die kinder-afdeling van die uitmergelende Fauresmith-uithourit gewen, maar is daardie jaar in Augustus tydens ‘n oefensessie ernstig beseer toe sy van ‘n perd afgeval en haar heup gebreek het. Na ‘n operasie het sy in Februarie 2016 weer begin deelneem en is dieselfde jaar nog vir die junior Springbokspan gekies.
Die pyn wat sy moes verduur, het haar nie daarvan weerhou om haar persoonlike beste tyd van 3:00.58 in die 80 km-uithourit op Tosca, naby Vryburg in Noordwes, te behaal nie. Sy het ook slegs 15 sekondes na die wenner van die die juniorafdeling op Fauresmith geëindig en vanjaar se Limpopo Kampioenskappe oor ‘n afstand van 120 km loshande met ‘n tyd van 6:30.45 gewen.
“Die pyn het net erger geword en Leoné kon nie meer self op haar perd klim nie. Ek moes haar tydens die laaste rit op- en afhelp,” sê haar pa, en vertel dat sy ongeveer ses weke gelede ‘n totale heupvervangingsoperasie ondergaan het en eers in April volgende jaar weer kan begin ry.
Haar perd, Mardien Shakira is ook as beste perd tydens die 2017-seisoen aangewys.
“Dit was moeilik na die eerste operasie, maar ek het uitgehou en wou nie my liefde vir die sport en perde prysgee nie,” sê Leoné.
Haar pa het tydens ‘n uithourit sy perd verloor en na dié hartseer besluit om nie meer deel te neem nie, maar Leoné het aangehou dat sy steeds ‘n perd wil hê. “My pa kon seker nie meer die gekerm hanteer nie en het in 2014 vir my ‘n perd gekoop. Die lekkerste van uithouritte is om in die natuur te wees. Soos ander mense ‘n hond as beste vriend het, het ek vir Mardien Shakira. Dit is ‘n fantastiese gevoel om op haar rug te sit en te weet waartoe sy in staat is.”
Volgens haar is ‘n goeie ruiter nie iemand wat net aan homself dink nie, maar ook sy perd se behoeftes en vermoëns in ag neem. “Jy moenie net ry om te wen nie, jy moet dit geniet. ‘n Wen is altyd ‘n bonus, maar nie die moeite werd om jou perd te druk net om ‘n goue medalje om jou nek te kan hang nie,” meen sy. Leoné sê daar is ‘n hegte band tussen ‘n ruiter en perd en dat hulle mekaar moet verstaan om te kan presteer.
As leerder van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria en met Mardien Shakira wat op hul plaas buite Mokopane gestal word, spandeer Leoné elke naweek baie tyd op Shakira se rug om te oefen.
Sy meen Fauresmith is een van die uitdagendste uithouritte in die wêreld omdat dit in moeilike weers­omstandighede plaasvind. “Die 204 km oor drie agtereenvolgende dae oor moeilike terrein bestaan uit klippe en sand, erosie­slote en gate. ‘n Mens moet hard konsentreer en kophou om nie jouself of jou perd te ooreis nie.”
Sy droom oor senior Springbokkleure en kan nie wag om volgende jaar kompeterend deel te neem nie.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

 

Related Articles

Back to top button