Egpaar stap Camino de Santiago

Plaaslike stappers, Dirk en Nettie Botha wat al menige staproetes in Suid-Afrika suksesvol afgelê het, het onlangs die gewilde Camino de Santiago-pelgrimstaproete in Spanje aangedurf en 566 km binne 28 dae afgelê. Nettie sê dit was ‘n ongelooflike erva­ring en sal dit vir enige stapper aanbeveel. “Ons het al byna elke stap­roete in die land …

Plaaslike stappers, Dirk en Nettie Botha wat al menige staproetes in Suid-Afrika suksesvol afgelê het, het onlangs die gewilde Camino de Santiago-pelgrimstaproete in Spanje aangedurf en 566 km binne 28 dae afgelê.
Nettie sê dit was ‘n ongelooflike erva­ring en sal dit vir enige stapper aanbeveel. “Ons het al byna elke stap­roete in die land en Namibië kaf­gedraf, van die Visrivier- en Nou­kloof-staproetes tot die Otter en vele ander. Geen ander rede as ons liefde vir stap het ons laat besluit om Camino de Santiago te takel nie.”
Sy vertel dat daar verskeie punte is van waar jy kan begin om van dorp tot dorp te stap. “In elk dorpie word jou pelgrimspaspoort gestempel wat verseker dat jy slaapplek en iets te eet vir die aand kry. Inwo­ners onthaal jou soms in hul huise anders oornag jy in ‘n herberg. Aan die einde van die roete meld jy by ‘n pelgrimskantoor aan waar hulle volgens die stempels in jou paspoort bepaal hoe ver jy gestap het en jy ontvang ‘n sertifikaat as bewys dat jy die roete voltooi het.”
Baie mense onder­neem die tog vir die geestelike aspek en stap van dorp tot dorp om kerkdienste in katedrale langs die pad by te woon. “Al doen jy dit vir die pret, kan mens nie anders as om die geestelike vervulling en heiligheid daarvan te ervaar nie. Daarbenewens is die samesyn tussen medestappers wat van oor die wêreld kom, deel van die hoogtepunt. Die grootste uitdaging is kommunikasie, maar die plaaslike mense is behulpsaam en bied vinnig aan om te tolk.”
Alhoewel Camino de Santia­go ‘n belewenis was, het die egpaar tien jaar gelede ‘n persoonlike
hoogtepunt bereik toe hulle Kilimanjaro uitgeklim het.
“Ons sal seker binnekort aan die volgende stapavontuur begin beplan,” sê sy.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version