Suikerbekkies hou jaarlikse boeresportdag

Die boeresportdag is onlangs op die sportvelde van Laerskool Piet Hugo gehou.

POLOKWANE – Met tonge wat plek-plek uit die mond steek en uitdrukkings van stram konsentrasie het die kleuters van Suikerbekkie Kleuterskool hul bes gelewer in hul jaarlikse boeresportdag.

Die kleuters, tussen die ouderdom van twee tot ses jaar, het hul bes gedoen terwyl ouers hulle van die kantlyn af aanspoor om vinniger as die maatjie langs hulle te hardloop of om op te staan as hulle neer sloeg.

 

Skoolhoof van Suikerbekkie Kleuterskool, Lize van Dyk, sê hierdie jaarlikse boeresportdag gee nie net die kinders die geleentheid om hul motoriese spiere te ontwikkel nie maar gee ook ouers die geleentheid om meer dig by hul kinders se skoolaktiwiteite betrokke te raak.

Onder andere het die kleuters aan verskeie resies deelgeneem, kruiwastoot, sakresies, aartappelresies, toutrek en ‘n skopfietsresies.

Die kleuters het medaljes ontvang vir hul deelname aan die boeresportdag terwyl hulle aan heerlike eet- en drinkgoed kon smul wat by die stalletjies te koop was.

reporter29@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version