Brille en Pille-pret saam met Theunis, 4 Nov

Maak seker jy ondersteun die Piet Potgieter Monument Ouetehuis se 12de Brille en Pille-dag.

MOKOPANE – Maak seker jy ondersteun die Piet Potgieter Monument Ouetehuis se 12de Brille en Pille-dag. Talle stalletjies met watertand happies sal beskikbaar wees sowel as musiekvermaak deur Vernette en Marius Wessels.

Theunis Nel van Woema (KykNET) sal sy getuienis tydens die dag om 12:00 lewer. Kykers sal hom ook as akteur onthou vir rolle in TV-reekse soos Sonkring, Egoli en Hart van Staal. Hy was ook te sien in District 9, ‘n film wat internasionaal groot sukses behaal het. As aanbieder het Theunis al diep spore in die Suid-Afrikaanse televisiebedryf getrap, en kykers sal hom onthou as aanbieder van ‘n wye verskeidenheid programme soos die SABC se gewilde Pasella, tot kykNET-programme soos Spits, Vat4, Latwiel en Woema, waarvan hy ook die vervaardiger is.

Theunis het ook ‘n grondige kennis van verskillende aspekte van die gevegskuns en was vir 23 jaar daarby betrokke. Hy was onder meer nege jaar lank die hoof van Combined Combat Art Suid-Afrika. Theunis is op 10 November 2014 ernstig beseer in ‘n motorfietsongeluk. Dokters het min hoop gehad dat hy sou oorleef, maar deesdae getuig Theunis landswyd oor God se genade.

Vir slegs R100 kan jy jou motorfiets bring en saam met die bejaardes die strate van Mokopane verken. ‘n Lap wapen en ontbyt is ingesluit. Die massa optog sal om 11:00 in 59 Rabestraat begin.

Exit mobile version