Ringbal na 25 jaar steeds in Wouter se bloed

Ringbal is al die afgelope 25 jaar deel van Wouter du Plessis se lewe wat steeds aktief daaraan deelneem en nog geen planne het om uit te tree nie. Sy ringballoopbaan het in 1992 begin toe hy as graad 11-leerder van Höer Tegniese Skool Tom Naudé, by die Pietersburg Korfbalklub aangesluit het omdat van sy …

Ringbal is al die afgelope 25 jaar deel van Wouter du Plessis se lewe wat steeds aktief daaraan deelneem en nog geen planne het om uit te tree nie.
Sy ringballoopbaan het in 1992 begin toe hy as graad 11-leerder van Höer Tegniese Skool Tom Naudé, by die Pietersburg Korfbalklub aangesluit het omdat van sy vriende ringbal gespeel het en hy dieselfde jaar Limpopokleure verwerf het.
Nadat hy sy skoolloopbaan voltooi het, wou hy nuwe horisonne verken by Park Korfbalklub in die stad waar hy ‘n spanlid tot in 2015 was waarna hy sy kragte by die Gauteng-Noord se Lynx-span ingegooi het.
Du Plessis is in 2013 en 2014 as lid van die Springbok-veteraanuitnodigingspan gekies en bereik die hoogste sport toe hy in 2015, 2016 en vanjaar vir die Springbokspan vir veterane gekies is. Die span het verskeie vertoonwed­stryde gespeel, maar nie op internasionale vlak meegeding nie.
Volgens Du Plessis is ringbal ‘n gesinsport waaraan oud en jonk kan deelneem. “Dit verg egter toewyding, vernuf, deeglike afrigting en kennis van die spelreëls. Fiksheid is van kardinale belang want ‘n speler kan net sy beste lewer as sy liggaam saamspeel. Dit het ook heelwat van my tyd in beslag geneem omdat ek die laaste twee jaar oefeninge en wedstryde in Gauteng en selfs verder moes bywoon.”
Du Plessis sê die hoogtepunt van sy loopbaan was in 2016 toe hy vir die Lynx-span uitgedraf het en hul tydens die Suid-Afrikaanse Ringbalklubkampioenskappe in Sasolburg as die beste span in Suid-Afrika aangewys is.
Springbokringbalspeler, Lynette Breed, van die Gauteng-Noordspan is sy rolmodel. “Sy het die vermoë om mense bymekaar te hou en ek sou al lankal opgehou speel het as sy my nie gereeld moed ingepraat en gemotiveer het nie,” sê hy.
Volgens Du Plessis kan ‘n sportman net suksesvol wees as hy geestelik reg ingestel is. “Dit gaan nie net oor wen nie, maar om jou uit te leef en die sport saam met jou spanmaats te geniet. Sportmansgees en samesyn bou verhoudinge wat lewenslange vriende maak. Respekteer jou opponent en jy sal respek ontvang en die spel sal die uiteindelike wenner wees,” is die ringbal-ambassadeur se motto wat ‘n ver­koopsman by ‘n plaaslike handelaar is.

Storie en foto: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

 

Related Articles

Back to top button