Marais Hattingh wen bronsmedalje by Afrika Stoeikampioenskappe

Op slegs 14 jaar het Marais Hattingh stoeiers wat tot drie jaar ouer as hy is gewys wat in hom steek toe hy na die Afrika Stoeikampioenskappe in Marrakesj, Marokko met ‘n bronsmedalje huiswaarts gekeer het. Marais het in April ‘n derde plek in die 46 tot 50 kg gewigs­klas van die kadetafdeling in die …

Op slegs 14 jaar het Marais Hattingh stoeiers wat tot drie jaar ouer as hy is gewys wat in hom steek toe hy na die Afrika Stoeikampioenskappe in Marrakesj, Marokko met ‘n bronsmedalje huiswaarts gekeer het.
Marais het in April ‘n derde plek in die 46 tot 50 kg gewigs­klas van die kadetafdeling in die Grieks-Romeinse styl behaal. Dié styl behels dat stoeiers nie hul bene mag gebruik of mekaar onder die heupe vasgryp nie.
Die afgelope naweek het hy daarop voortgebou en by die Suid-Afrikaanse Stoeikampioenskappe ‘n bronsmedalje in die 46 tot 50 kg gewigsklas van die kadetafdeling, vrye styl verower.
Volgens Magrietha Lourens, sekretarisgeneraal, van die Ion Baciu Stoeiklub, kon hy in die kadetafdeling, wat gewoonlik vir stoeiers van 16 tot 17 jaar gereserveer is, deelneem omdat hy tydens die proewe voor die kompetisie uitstekend gevaar het. “Die proewe is in Februarie in Gauteng gehou waar stoeiers van regoor die land meegeding het om vir die Afrika-kampioenskappe te kwalifiseer,” sê sy.
Die belowende jong atleet het as negejarige begin stoei danksy die aanmoediging van sy pa, Stephan, wat baie trots op sy seun se prestasies is. “Ek het Marais by die klub ingeskryf omdat stoei ‘n goeie leerskool is waar kinders deursettingsvermoë, geduld en selfdissipline leer.”
Die talentvolle graad 9-leerder van Marné Ebersohn Akademie, sê stoei het sy algehele ontwikkeling en selfvertroue ‘n hupstoot gegee en help hom ook om fiks te bly.
Sy rolmodelle is internasionale stoeiers, Dan Gable en Bill Zadick, wie se tegnieke hy bestudeer. Gable se aanhaling: “Gold medals are not really made of gold. They are made of sweat, determination and a hard-to-find alloy called guts,” inspireer Marais om elke keer wanneer hy op die stoeimat klim sy beste te lewer, sê hy.
Jan Roets, Marais se afrigter, speel ook ‘n belangrike rol in sy lewe. “Hy sê graag ‘klein hondjies word groot’ en dit help my om nie vir groter en ouer teenstanders bang te wees nie en te volhard al sien ek nie onmiddellik resultate nie.”
Volgens Roets is Marais as toegewyde stoeier altyd bereid om ekstra hard te werk.
“Hy het deursettingsvermoë en pluk nou die vrugte van sy arbeid,”, sê die afrigter van verskeie kampioene.
Marais het nog geen planne wat hy eendag na skool wil doen nie, maar sy droom is om volgende jaar ‘n goue medalje by die Afrika Stoeikampioenskappe te wen en om Suid-Afrika eendag by die Olimpiese Spele te verteenwoordig.
Hy het Roets vir sy volgehoue motivering, sy ouers vir hul insette en ondersteuning asook sy klubmaats vir hul kameraadskap bedank.

Storie en foto: THINUS DU TOIT
>>thinus@observer.co.za

 

Related Articles

Back to top button