Groenewald-broers deur Interpol aangekeer, uit op borg

Broers Dawie en Janneman Groenewald het vanoggend (Vrydag) in die Polokwane landdroshof verskyn nadat hulle gisteroggend (Donderdag) deur ‘n Interpol-taakspan op onder meer aanklagte van bedrog en geldwassery gearresteer is. Hulle is onderskeidelik op borg van R50 000 en R10 000 vrygelaat nadat hulle ‘n nag in die aanhoudingselle deurgebring het. Die saak is gister …

Broers Dawie en Janneman Groenewald het vanoggend (Vrydag) in die Polokwane landdroshof verskyn nadat hulle gisteroggend (Donderdag) deur ‘n Interpol-taakspan op onder meer aanklagte van bedrog en geldwassery gearresteer is.
Hulle is onderskeidelik op borg van R50 000 en R10 000 vrygelaat nadat hulle ‘n nag in die aanhoudingselle deurgebring het.
Die saak is gister (Donderdag) na vandag (Vrydag) uitgestel nadat die staat ‘n aansoek voor die hof gebring het om die borgaansoek vir sewe dae uit te stel sodat duidelikheid oor beide broers se woonadresse verkry kon word.
Die Groenewald’s se prokureur, Thomas Grobler, het aangevoer dat Janneman by sy huis in Eduanpark gearresteer is. Die polisie het glo na Dawie op sy plaas buite die stad gaan soek, maar hy was nie tuis nie. Hy het hy by die Polokwane polisiestasie aangemeld nadat hy verneem het dat die polisie na hom soek.
Grobler het aangedui dat hy nie verstaan waarom die adresse ‘n probleem is nie, aangesien die polisie geweet het waar om die verdagtes te vind. Grobler het dit ook duidelik gemaak dat ‘n saak teen Dawiereeds sewe jaar duur en nog nooit was daar enige teken dat die verdagtes ‘n vlugrisiko is nie. Van Dawie se oorspronklike borgvoorwaardes is ook teruggetrek.
Die saak teen Dawie en nege ander, wat op 1 872 aanklagte in verband met renosterstropery tereg staan, is verlede week in die Pretoriase Hooggeregshof tot Januarie uitgestel.
Landdros Janine Ungerer het die staat se aansoek afgekeur en die borgaansoek is voortgesit.
Die Valke se nasionale woordvoerder, Hangwani Mulaudzi sê ‘n lasbrief is deur die Amerikaanse departement van justisie vir die Groenewalds se inhegtenisname uitgereik. “Die Valke, die Limpopo polisie se beskermde spesie-eenheid en die taktiese reaksie-eenheid het met die arrestasie gehelp, sê Mulaudzi en las by dat die lasbrief dadelik uitgevoer is nadat dit ontvang is.
Die aanklagte van onder meer bedrog, geldwassery, sameswering en die oortreding van die Amerikaanse Lacey wet is reeds in 2014 teen die twee broers gemaak nadat hulle glo jagters by Amerikaanse jagkonferensies gewerf het om van sogenaamde probleemrenosters in Suid-Afrika ontslae te raak.
Die broers sal in Augustus weer voor die hof verskyn.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button