Topatleet Zenobea Jewaskiewitz op pad na Duitsland

‘n Foto van haarself as kleuter wat vir die eer­ste keer by die Peter Mokaba Stadion met ‘n niekerbol in haar mond aan ‘n wedloop deelgeneem het, help Zenobea Jewaskiewitz om te onthou waar haar liefde vir atletiek begin het. Dié top 200 m-atleet van Prisma Jewas­kiewitz Atletiekklub se uitsonderlike prestasies is die afgelope seisoen …

‘n Foto van haarself as kleuter wat vir die eer­ste keer by die Peter Mokaba Stadion met ‘n niekerbol in haar mond aan ‘n wedloop deelgeneem het, help Zenobea Jewaskiewitz om te onthou waar haar liefde vir atletiek begin het.
Dié top 200 m-atleet van Prisma Jewas­kiewitz Atletiekklub se uitsonderlike prestasies is die afgelope seisoen raakgesien en sy is uitgenooi om van 21 Junie tot 3 Julie aan die Schweinfurt Jeugkampioenskappe en Mann­heim Juniorkampioenskappe in Duitsland haar staal te toon.
“Ek is baie opgewonde en glo dit gaan ‘n ongelooflike ondervinding wees. Ek oefen hard en vertrou ek sal minstens my persoonlike beste tyd van 24,02 sekondes as o.17-atleet in Duitsland kan ewenaar.”
Om rekords te verbeter, is vir Zenobea geen rare verskynsel nie omdat sy sedert die begin van die atletiekseisoen tydens elke byeenkoms óf die 100 m- óf die 200 m-rekord laat spat het.
Tydens verlede jaar se Marius Lengton Gedenkbyeenkoms het sy beide die 100 m- en 200 m-rekords, wat vir 33 jaar gestaan het, laat tuimel en is as senior Victrix Ludorum-atleet aangewys. Tydens die plaaslike Stars Atletiekbyeenkoms, interhoër en ‘n byeenkoms by Hoërskool Oosmoot vroeër vanjaar het sy ook rekords oor beide afstande verbeter.
Ander byeenkomste waar sy eerste plekke in die 200 m behaal het, sluit Atletiek Suid-Afrika (ASA) se Jeug- en Juniorkampioenskappe, Bestmed Tuks Atletiekbyeenkoms en die Limpopo Atletiekkampioenskappe in.
“Sedert laerskooldae het ek in atletiek uitgeblink en altyd gewen. Selfs by Super 12-byeenkomste het ek goue medaljes verower en dink ek hou steeds die rekord in die 60- en
80 m by Laerskool Pietersburg-Oos.”
Haar gunstelingbyeenkoms vanjaar was die Bestmed Tuks Atletiekbyeenkoms waar sy vir die eerste keer op ‘n blou tartanbaan kon hardloop. “Ek wou dit nog altyd doen, die blou bring ‘n kalmte oor my en is baie mooier as rooi tartan.” Zenobea het tydens die byeenkoms ‘n goue medalje en ‘n wentyd van 24,8 sekondes vir haarself verseker.
Volgens haar het ‘n goeie atleet uithouvermoë en selfbeheersing terwyl fiksheid die belangrikste faktor is. ‘n Sterk persoonlikheid, deursettingsvermoë en fokus is vir haar ewe belangrik. “Die 200 m is moeilik omdat jy van die begin af voluit moet hardloop en jou energie oor die laaste 50 m min raak.”
Binne seisoen oefen sy elke dag op die baan maar buite seisoen spandeer sy meer tyd in die gimnasium. “Wanneer ek wegspring is net die wenstreep in my kop.”
Oor haar buitengewone eetgewoontes voor ‘n wedloop kan Zenobea nie ophou lag nie. Sy eet gebottelde babakos en verkies die bessie- of spaghetti en maalvleisgeure. Sy laat glo ook nie ‘n kans verbygaan om aan ‘n paar hoenderhappies te kou nie.
“Ek wil na skool graag sportsielkunde studeer met die doel om ander mense te inspireer om ‘n liefde vir atletiek te kweek en hul drome uit te leef. Ek gaan definitief hardloop tot ek nie meer kan nie en wil graag my land op internasionale vlak verteenwoordig deur aan die Olimpiese Spele deel te neem,” sê die blits van Hoërskool Pietersburg.

Story: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Fotos: Verskaf
Zenobea, links, in aksie tydens ‘n onlangse byeenkoms by Tukkies.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button