Skopbokser Petie Nell wen groot by Arnold Classic

Drie jaar gelede het die besondere sportmanskap en selfverdedigingselement van skopboks vir Petie Nell aangetrek, maar hy het nooit gedink dat hy op 17-jarige ouderdom al medaljes sou inryg en selfs naam maak nie. Die lid van die Limpopo Province Sport Karate-Kickboxing Academy (LPSKKA) en graad 12-leerder van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé het tydens …

Drie jaar gelede het die besondere sportmanskap en selfverdedigingselement van skopboks vir Petie Nell aangetrek, maar hy het nooit gedink dat hy op 17-jarige ouderdom al medaljes sou inryg en selfs naam maak nie.
Die lid van die Limpopo Province Sport Karate-Kickboxing Academy (LPSKKA) en graad 12-leerder van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé het tydens die Arnold Classic Africa, wat die naweek vir die tweede keer in Suid-Afrika aangebied is, drie goue- en ‘n silwermedalje verower.
Dié ryk oes is ‘n welkome toevoeging tot die goue medalje wat hy verlede jaar in Oktober tydens die Suid-Afrikaanse Skopbokskampioenskappe verower het en wat hom ‘n plek in die nasionale span, wat in Junie aan die Wêreldskopbokskampioenskappe in Amerika gaan deelneem, besorg het.
Hy verduidelik dat hy tydens die Arnold Classic Africa twee goue medaljes in die deurlopende-afdeling verwerf het waar skopboksers vir 90 sekondes ononderbroke veg. In die punte-afdeling het hy nog ‘n goue- en een silwermedalje ingepalm. In dié afdeling word daar ook vir 90 sekondes geveg, maar sodra ‘n sekere punt bereik word, word die geveg gestop en beide vegters begin weer op nul. Punte word toegeken volgens houe wat op strategiese plekke op die opponent se lyf toegedien word.
“Dit was ‘n ongelooflike erva­ring en ‘n eer om deel te wees van die grootste multisportge­leentheid in Afrika waar meer as 50 sportsoorte oor drie dae beoefen word,” sê Petie, wat in die kategorie vir 16 tot 17 jaar, wit tot geel gordel, deelneem. Alhoewel hy reken dat die kompetisie by die Arnold Classic nie so sterk was nie, is dit ‘n ander saak om aan die wêreldkampioenskappe deel te neem.
“Dit gaan nie net oor baklei nie, maar oor die selfverdedigingstegnieke wat jy aanleer en in die alledaagse lewe kan toepas. Jy moet konstant in beheer wees omdat dit nie daaroor gaan om jou opponent seer te maak nie,” sê Petie.
Volgens hom bly uitblinkers in skopboks altyd gefokus en luister aandagtig wat tydens oefensessies geleer word. “Harde en gereelde oefening en fiksheid is baie belangrik. Ek sorg dat ek elke dag oefen. Dinsdae en Donderdae by die klub en ander dae op my eie by die huis.”
Petie se doel is om binne die volgende twee tot drie jaar tot ‘n swart gordel op te gradeer.
Sy afrigter, Nico Myburgh sê daar is baie werk en lang ure ingesit om Petie voor te berei. “Dit is altyd goeie nuus as ons studente presteer want dit beteken dat ons tog iets tydens oefe­ning regdoen. Sy lojaliteit en toegewyde gesindheid het vinnig vrugte afgewerp. Hy is iemand wat met sy hele hart belang­stel en baie ernstig is wanneer hy oefen. Hy het definitief die laaste jaar vinnig ontwikkel en word as bogemiddelde student beskou.”

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

 

Related Articles

Back to top button