Verspring­atleet Marcelle de Jager wen goud by SA’s

Sedert die begin van die jaar het die 15-jarige Marcelle de Jager van Hoërskool Pietersburg (PHS) goue medaljes op die atletiekbaan ingeryg, maar nooit het sy gedink dat goud tydens die Suid-Afrikaanse Skole Atletiekkampioenskappe in Durban vir haar beskore is nie. Sy het haar eie verwagtinge tydens die onlangse kampioenskappe oortref deur met ‘n afstand …

Sedert die begin van die jaar het die 15-jarige Marcelle de Jager van Hoërskool Pietersburg (PHS) goue medaljes op die atletiekbaan ingeryg, maar nooit het sy gedink dat goud tydens die Suid-Afrikaanse Skole Atletiekkampioenskappe in Durban vir haar beskore is nie.
Sy het haar eie verwagtinge tydens die onlangse kampioenskappe oortref deur met ‘n afstand van 5,53 m as die o.17 nasionale verspringkampioen uit die stryd te tree.
“Ek is ongelooflik trots op my prestasie. Ek het dit regtig nie verwag nie en dit was eintlik ‘n baie groot verrassing. Dit is enige atleet se droom om goud op nasionale vlak te verwerf en nou weet ek ook hoe dit voel,” sê Marcelle. Die goue medalje is ook die eerste medalje wat sy ooit op nasionale vlak gewen het.
Sy sê die atmosfeer op Kings Park Stadion was onbeskryflik. “Dit was fantasties om te sien dat die pawiljoen konstant met toeskouers gepak is. Saam met die ooglopende streng kompetisie tussen atlete was elke sekonde op die veld ‘n hoendervleis-oomblik,” sê Marcelle.
Sy neem sedert graad 3 aan verspring deel en is ‘n kranige naelloper wat beskeie oor haar prestasies is. Tydens PHS se Sterresport, die Janus Roberts Gedenkbyeenkoms, die interhoër en ‘n byeenkoms by Hoërskool Oos-Moot het sy goue medaljes in verspring, 100 m en 200 m behaal. Tydens die interhoër het sy benewens die drie eerste plekke in die onderskeie items ook ‘n nuwe rekord in elkeen in die geskiedenisboeke aangeteken. Haar verspringrekord op interhoër­vlak is 5,27 m en sy het die 100 m in 12,21 sekondes en 200 m in 25,72 sekondes kafgedraf.
Marcelle het sedert die begin van die seisoen byna elke dag verspring geoefen en onder die leiding van haar ma, Natasha, wat self ‘n bekwame middelafstandatleet is, was daar nie tyd vir speletjies nie. Sewe dae ‘n week se oefening was nie buitengewoon nie, maar is soms tot vyf keer per week beperk wanneer daar tyd vir ander skoolaktiwiteite of akademie ingeruim moes word.
Natasha sê Marcelle het besluit om haar slegs aan verspring tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskappe toe te spits. “Wanneer atlete aan meer as een item deelneem, verloor hulle vinnig konsentrasie. Dit bly beter om eerder op een item te fokus,” meen Natasha.
Marcelle reken ‘n goeie verspringatleet is ten alle tye gefokus, glo in homself en het konstante positiewe denke. “As jy oortrap, moet jy daarvan vergeet en dadelik weer vorentoe kyk, want as jy jou daaroor bekommer gaan dit definitief elke sprong daarna beïnvloed.”
Sy sê verspring is ook meer as net hardloop en spring. “Dit verg baie tegniek om ver te kan spring. Jy moet weet hoe om jou arms te gebruik, hoe om hoogte te kry en die meeste uit jou veerkrag te put. Daarom is my raad aan atlete wat met verspring sukkel om aan te hou oefen. Wees positief en jy sal die vrugte daarvan pluk.”
Haar droom is om tydens volgende jaar se nasionale kampioenskappe weer ‘n goue medalje huis toe te bring. En al is sy nog nie seker wat sy na skool wil studeer nie, sien sy haarself by die Olimpiese Spele in 2020.
Nadat sy die atletiekseisoen op ‘n hoë noot afgesluit het, werk sy nou aan haar tegniek op die netbalbaan.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Marcelle de Jager in aksie tydens die onlangse Suid-Afrikaanse Skole Atletiekkampioenskappe in Durban.
Exit mobile version