Raad oor hoe om jou testament op te stel

Indien jy oor 'n testament beskik, sal jy die laaste woord spreek oor wat met die vrugte van al jou harde arbeid moet gebeur wanneer jy nie meer hier is nie, of hoe?

MOKOPANE – Nie heeltemal nie, sê Clive Hill, ‘n Sanlam-regsadviseur. ‘n Testament wat nie duidelik bewoord is nie mag verwarring veroorsaak en uiteindelik ‘n hofbeslissing vereis.

“‘n Testament wat byvoorbeeld net sê: ‘Ek bemaak al my geld aan my dogter Pennie,’ kan maklik betwis word. Wat presies is geld? Is dit note en munte gevind in die testateur se beursie op die dag van sy dood, of sluit dit die vaste deposito in die bank en ander finansiële beleggings in?

“Tewens, om te sê: ‘Ek bemaak my boedel aan my kinders,’ is nie voldoende nie. Jy moet stipuleer of jy slegs na jou biologiese kinders verwys, indien jy ook ander kinders het. ‘n Akkurate beskrywing van presies wat jy bedoel soos: ‘Ek bemaak die saldo van my tjekrekening op die dag van my dood aan my dogter Jane,’ – kan ‘n reuse effek hê op die implementering van jou testament,” sê Hill.

Dit is nie ‘n goeie plan om alles gelykop te verdeel as jy meer as een erfgenaam het nie tensy jou hele boedel uit kontant bestaan. Om byvoorbeeld eienaarskap van ‘n huis aan jou huweliksmaat en al jou kinders oor te dra mag praktiese probleme veroorsaak aangesien hulle almal die reg het om in die huis te woon, maar is dit prakties?

Om eienaarskap van ‘n motor na vier persone oor te dra, is ook nie prakties nie.

Een van die erfgename sal die motor moet koop as hy of sy dit wil behou, maar wat as almal die motor wil koop? Indien enige van jou erfgename as getuie geteken het of gehelp het om jou testament op te stel, kan hulle daarvan gediskwalifiseer word om hulle erflating te ontvang as die ander erfgename die testament sou betwis. Alhoewel ‘n gediskwalifiseerde erfgenaam daarop geregtig is om die hof te nader om dit te besleg, kan dit ‘n lang en duur proses wees.

Dikwels benoem ouers minderjarige kinders as begunstigdes van bates soos assuransiepolisse se uitbetalings, eiendom en ander belegging-inkomstes. Indien jy as ouer nie ‘n trust geskep het om die erflating namens die minderjarige te hou nie, sal dit deur die Voogdefonds gehou word, wat deur die meester van die hooggeregshof geadministreer word, ‘n openbare entiteit wat die bates slegs in beleggings met ‘n lae rentekoers belê. Dit kan tot nadeel strek van die minderjarige begunstigdes, veral as hulle nog baie jonk is.

Hill sê om ‘n trust in jou testament te skep (genaamd ‘n testamentêre trust) sal verseker dat die geld wat jy aan jou kinders nalaat maklik toeganklik sal wees om na hulle behoeftes om te sien en gebruik sal word soos die bedoeling was – om vir hulle opvoeding voorsiening te maak. Bo en behalwe hierdie algemene foute, is die grootste fout wat die meeste mense maak om nie hulle testamente te verander wanneer hulle omstandighede verander nie. Nuwe kinders, nuwe bates en nuwe familielede kom in die prentjie.

Dit is waarom jy jou testament ten minste een keer ‘n jaar moet hersien.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Exit mobile version