Christiaan Stroebel ken geen ander kleur as goud nie

Kranige driekampatleet wen goue medalje in Sentraal-Gauteng Driekampkampioenskappe Christiaan Stroebel is een van Limpopo se uitnemendste driekampatlete en die medaljes wat ingeryg teen sy kamermuur hang, getuig van sy fokus, doelgerigtheid en passie. Die graad 10-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS) se nuutste toevoeging tot sy medaljeversameling is ‘n goue medalje wat hy tydens die onlangse …

Kranige driekampatleet wen goue medalje in Sentraal-Gauteng Driekampkampioenskappe

Christiaan Stroebel is een van Limpopo se uitnemendste driekampatlete en die medaljes wat ingeryg teen sy kamermuur hang, getuig van sy fokus, doelgerigtheid en passie.
Die graad 10-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS) se nuutste toevoeging tot sy medaljeversameling is ‘n goue medalje wat hy tydens die onlangse Sentraal-Gauteng Driekampkam­p­ioenskappe in die o.17-afdeling verwerf het. Dié driekamp bestaan uit 750 m swem, 20 km fietsry en 5 km draf.
Hy het in 2013 en 2014 as o.13-, in 2016 as o.15- en vanjaar as o.17-atleet met die goud op nasionale kampioenskappe weggestap sê sy ma, Louisa. Christiaan het ook verlede jaar tydens die Driekamp Afrikabeker en Zimbabwe Nasionale Kampioenskappe ‘n eerste plek in die o.15-afdeling behaal en in Mei in Sharm el-Sheikh in Egipte ‘n goue medalje tydens die Driekamp Afrikakampioenskappe in dieselfde afdeling ingepalm.
Die spogatleet fokus nou om in topvorm vir die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe op 19 Maart in Bloemfontein sowel as die nasio­nale swemkampioenskappe van 17 tot 21 Maart in Durban te kom. “Hy gaan aan beide byeenkomste deelneem en per motor en vliegtuig op en af tussen Bloemfontein en Durban vir daardie paar dae wees,” sê Louisa.
Christiaan blink ook in ander
sportsoorte uit en spog met pro­vinsiale kleure in swem, twee­kamp, landloop en oopwaterswem.
“Vandat ons in Mei verlede jaar hierheen verhuis het, verg dit meer dissipline om gereeld te oefen. My afrigter in Gauteng stuur weekliks ‘n program en ek oefen op my eie. Dit is maar moeilik om sonder my oefengroep te wees,” sê Christiaan oor sy grootste uitdaging.
Sy belangstelling in driekamp is geprikkel toe hy sy eerste byeenkoms tydens ‘n gesinsuitstappie gesien het. “Die gogga het dadelik gebyt. Fiksheid was nog altyd ‘n groot liefde en driekamp bied soveel maniere om fiks te bly dat dit maklik is om daarvan te hou.”
Christiaan se obsessie met medaljes is ook ‘n bydraende faktor tot sy sukses. Louisa sê Chistiaan neem sedert 12-jarige ouderdom aan driekamp deel. “Hy is ‘n kompeterende kind en medaljes het nog altyd sy aandag getrek. Hy wou nie aan ‘n byeenkoms deelneem as daar nie medaljes was nie,” skerts sy.
Volgens Christiaan is uithouvermoë, fiksheid en sterk sportmangees eienskappe van ‘n goeie driekampatleet. “Jy moet ‘n perfekte balans tussen fietsry, hardloop en swem vind. Dit help nie jy is ‘n goeie swemmer, maar sak in die ander dissiplines uit nie,” sê hy.
Sy doelwit is ook om vir die Olim­piese Jeugspele in Buenos Aires in Argentinië in 2018 te kwalifiseer en reken sy kanse is goed om vir die Suid-Afrikaanse span gekies te word.
Hy beoog om steeds op driekamp te fokus na skool en in ‘n geografierigting te studeer.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

 

Related Articles

Back to top button