Skote klap tussen inbrekers, GPF en polisie

Saterdagoggend se skietvoorval in Ladine tussen sowat ses gewapende rowers, waarvan een met ‘n aanvalsgeweer gewapen was, lede van Ladanna Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die polisie is as ‘n mini-oorlog beskryf toe skote begin klap het. ‘n Anonieme GPF-lid wie ook onder die spervuur was, sê die gebied word die afgelope twee weke deur ‘n gewapende …

Saterdagoggend se skietvoorval in Ladine tussen sowat ses gewapende rowers, waarvan een met ‘n aanvalsgeweer gewapen was, lede van Ladanna Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die polisie is as ‘n mini-oorlog beskryf toe skote begin klap het.
‘n Anonieme GPF-lid wie ook onder die spervuur was, sê die gebied word die afgelope twee weke deur ‘n gewapende bende van tussen vier en agt persone geteister wat gereeld by groot besighede in Laboria, Ladine en Industria inbreek en nie huiwer om te skiet nie.
In die nuutste voorval Saterdagoggend het vier verdagtes glo ‘n sekuriteitswag by ‘n fabriek in Fosfaatstraat vasgebind en by die gebou ingebreek, maar niks gesteel nie. “Vandaar is hulle na ‘n fabriek in Tinstraat waar hulle ook ingebreek het. Die sekuriteitswag het homself intussen bevry en gaan hulp soek terwyl die GPF ‘n oproep van die inbraak in Tinstraat ontvang het,” sê die GPF-lid.
Die inbrekers het etlike meter van die perseel op die sekuriteitsvoertuig, wat na Tinstraat ontplooi is, losgebrand. Lede van die GPF wat agter die sekuriteitsvoertuig gery het, het uit hul voertuie geklim om skuiling te soek en het volgens inligting teruggeskiet.
“Die skurke is die bosse in met die polisie se aankoms waarna hulle weer op die Mogwadipad aangekeer is en ‘n skietery weer ontstaan het. Hulle het uiteindelik ontvlug.”
Die bron sê volgens kamerabeeldmateriaal is die verdagte met ‘n .303-jageweer en ‘n AK47-aanvalsgeweer gewapen en is patroondoppies van dié twee wapens op die toneel gevind.
Westenburg polisiewoordvoerder, Maphure Manamela kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version