Bak is die nuwe braai

'n tuisgemaakte sonoond is 'n oulike manier om kos warm te maak en geld te bespaar.

POLOKWANE – Met die stygende prys van kos en brandstof moet mens met indingryke maniere op kom om geld te bespaar.

Baie mense maak van sonpanele gebruik as ‘n alternatiewe middel om krag vir hulle huishoudelike gebruik op te wek en sodoende geld spaar, maar ‘n Polokwane inwoner, Susie Wentzel-Claassen, het ‘n ander slim plan om sonkrag op ‘n lonende manier te benut.

Sonstrale bestaan uit elektromagnetiese golwe wat energie na die aarde dra. Energie kan ook van een vorm na ‘n ander omgeskakel word en Susie benut dié beginsel om heerlike etes in ‘n sonoond voor te berei. Haar “sonaartappels” is veral ‘n gewilde treffer onder haar familie.

“Daar is soveel dinge wat mens in die sonoond kan maak. Ek droog byvoorbeeld glad nie my beskuit in die oond nie en doen dit buite in die sonoond. ‘n Sonoond is maklik om te maak met alledaagse items wat beteken dat jy nie die bank hoef te breek om een te koop nie,” verduidelik Susie.

Benodigdhede:

• ‘n Vlak kartonboks met ‘n deksel (‘n pizzaboks sal baie goed werk).

• Aluminiumfoelie.

• Kleefplastiek.

• Swart papier.

• Kleeflint.

• ‘n Ou koerant.

• ‘n Skêr of skerp mes.

• ‘n Liniaal en potlood.

Metode:

1. Sny ‘n stuk swart papier uit wat groot genoeg is om die bodem van die kartonboks te bedek en sit dit binne-in die boks.

2. Isoleer die boks aan die binnekant met opgerolde koerantpapier.

3. Maak die deksel toe.

4. Op die bokant van die deksel, meet 2 tot 3 cm vanaf die los kante met jou potlood en liniaal – moenie aan die dekselkant afmeet nie. Sny langs die lyne met ‘n skerp mes of ‘n skêr sodat dit ‘n los flap in die deksel vorm wat jy afsonderlik kan oopmaak.

5. Seël die oop deel in die deksel met kleefplastiek en kleeflint sodat dit lugdig is.

6. Trek die binnekant van die los flap met aluminiumfoelie oor.

7. Sit die kos wat jy wil kook op ‘n deursigtige glas- of plastiekbord en sit dit binne-in die boks. Maak die deksel toe en stut die flap oop met jou liniaal.

8. Sit jou oond in die son sodat soveel lig as moontlik van die foelie af tot binne-in jou oond weerkaats. Dit werk natuurlik die beste as die son op sy warmste is.

“Hoe lank jy jou kos in die sonoond moet los word deur die hitte van die dag bepaal. ‘n Eenvoudige sonoond soos dié sal die beste werk om klein hoeveelhede kos warm te maak en dit is ideaal om iets te laat smelt,” vertel sy.

Sonoondresepte:

• Gesmelte kaasbroodjie: Neem ‘n sny brood, botter dit en strooi gerasperde kaas bo-oor. Bak dit in jou sonoond tot al die kaas gesmelt het.

• Miljoenêrkoekies: Neem twee tennisbeskuitjies en smeer dit met sjokolade-smeer. Sit ‘n malvalekker tussenin en bak dit in jou sonoond.

• Ham-eier rolletjies: Klits ‘n eier saam met ‘n eetlepel melk en geur dit met ‘n knippie sout. Sit ‘n velletjie ham op ‘n deursigtige glasbord en bedek dit met die geklitste eier. Bak dit in jou sonoond tot die eier goed gaar is. Jy kan nou die ham oprol en met ‘n tandestokkie vassteek.

 

riana@nmgroup.co.za

Exit mobile version