Danie Roux ontvang hoogste toekenning vir sportbydrae

Nadat Danie Roux 52 topatlete en 16 medaljes op nasionale vlak in sy loopbaan as atletiekafrigter opgelewer het, het Curro Heuwelkruin hom verlede week met die skool se hoogste toekenning, die Rektorsmedalje vereer. Dit is die eerste keer in die skool se geskiedenis dat ‘n afrigter of leerkrag die toekenning ontvang en dié Kruinie-sporthoof kan …

Nadat Danie Roux 52 topatlete en 16 medaljes op nasionale vlak in sy loopbaan as atletiekafrigter opgelewer het, het Curro Heuwelkruin hom verlede week met die skool se hoogste toekenning, die Rektorsmedalje vereer.
Dit is die eerste keer in die skool se geskiedenis dat ‘n afrigter of leerkrag die toekenning ontvang en dié Kruinie-sporthoof kan dit met trots langs die Suid-Afrikaanse Skole-atletiek Honoris Causa wat hy in 1997 ontvang het, uitstal.
“Dit is ‘n groot eer en waardevolle beloning vir drie jaar se harde werk, alles insit en die wil om net die beste vir elke atleet en die skool te hê,” sê Roux.
Hy het in 2014 by Heuwelkruin aangesluit met die missie om elke atleet se potensiaal ten volle te ontwikkel en om die skool dié toonaangewende skool op plaaslike- en nasionale vlak te maak. “Kruinies is tuis in enige geselskap. In die laaste drie jaar het ons drie Beeldtrofeë en twee Noordvaalbekers verower en ses provinsiale kampioene en verskeie atlete wat op nasionale vlak deelneem, opgelewer,” sê Roux trots.
Hy voeg by dat die skool in 2014 slegs 38 atlete prysuitdeling toe genooi het wat jaar na jaar gegroei het tot die 63 wat vanjaar toekennings ontvang het.
Roux se afrigtingloopbaan het in 1976 by Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria begin waar hy vier Suid-Afrikaanse atlete opgelewer het. In 1980 sluit hy by Hoërskool Piet Potgieter aan en brei 15 atlete tot op nasio­nale vlak.
In 1987 vind hy sy voete in Polokwane by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé waar 27 atlete deur sy hande tot op nasionale vlak deurdring.
“Ek het nog altyd ‘n liefde vir sport en veral atletiek gehad. Rugby is ook een van my gunsteling sportkodes en ek het tien eerste spanne gedurende my loopbaan afgerig waarvan meeste goed presteer het.”
Een van sy rugbyhoogtepunte was in 2002 toe Tommies se eerste rugbyspan die laaste span geword het wat die Bosveld Intervarsity gewen het voordat die tradisionele kragmeting tussen Tom Naudé en Hoërskool Pietersburg vanjaar vir die eerste keer weer lewe gekry het. Sy spanne het gereeld tot in uitspeelrondes van die gewilde Beeldtrofee gevorder en in 2001 was Tommies se eerste rugbyspan provinsiale wenners in die grootskole-afdeling.
Roux moedig sy atlete met inspirerende aanhalings aan en sê ‘n goeie atleet het moed, passie en toewyding. Daarenteen moet ‘n goeie afrigter oor entoesiasme vir die sportsoort wat hy afrig, beskik. “Atlete moet kan sien jy wil hulle graag afrig en dat jy net een doel voor oë het; om hulle te help presteer.”
Sy advies aan atlete is: “Stel vir jouself doelwitte en werk daarnatoe. Deur absolute toewyding, harde werk en die wil om ‘n Godgegewe talent ten volle te ontwikkel, sal jy presteer.”
Roux se leuse op die atletiekbaan is ‘Kampioene oefen wanneer die ander rus’ en hy streef elke dag daarna om elke minuut tydens oefeninge te benut.
Kruinie uitvoerende hoof, Eben Lingenfelder sê Roux is ‘n ongelooflike voorbeeld van iemand met toewyding, lojaliteit en passie vir wat hy doen. “Die skool het aansienlik op sportgebied verbeter sedert hy by ons aangesluit het.
Hy speel nie net ‘n groot rol op die atletiekbaan nie, maar ook met die algemene motivering van leerders en talentontwikkeling.”

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Kruinie-sporthoof, Danie Roux is tydens die skool se sportprysuitdeling met ‘n Rektorsmedalje vereer. 

 

Exit mobile version