Duane Ueckermann verower goud in Mauritius

Duane Ueckermann is ‘n jong sportman om mee rekening te hou. Ná slegs vier jaar se deelname in ringbal, spog hy reeds met Protea- en Springbokkleure. Die graad 11-leerder van Free To Be Me Akademiese Sentrum in die stad het vier jaar gelede begin ringbal speel en dieselfde jaar Limpopokleure verwerf. Hy was toe ‘n …

Duane Ueckermann is ‘n jong sportman om mee rekening te hou. Ná slegs vier jaar se deelname in ringbal, spog hy reeds met Protea- en Springbokkleure.
Die graad 11-leerder van Free To Be Me Akademiese Sentrum in die stad het vier jaar gelede begin ringbal speel en dieselfde jaar Limpopokleure verwerf. Hy was toe ‘n graad 7-leerder van Pietersburg Laerskool en het by Jakaranda Ringbalklub, waar sy ouers ook lede is, aangesluit omdat ringbal nie as sportsoort by die skool aangebied is nie.
In 2013 en 2015 behaal hy weer Limpopokleure as lid van van Jakaranda Ringbalklub en word in 2014 as reserwe vir die Springbokspan gekies.
Die hoogtepunt van sy prestasies tot dusver was sy insluiting as verdediger in die Proteaspan wat Augustus na Mauritius getoer het. Die span het onder meer teen spanne van Indië, Mauritius en Namibië meegeding en het almal goue medaljes verwerf.
“Ek het aan die begin vir die plesier aan ringbal deelgeneem, maar gou besef dat dit nie genoeg is nie. Dié sport verg toewyding en absolute ingesteldheid en fiksheid,” sê Duane wat ook sosiaal aan aksiekrieket, rugby en gholf deelneem.
“Ek het ‘n absolute passie vir sport, maar sorg dat ek nie in dié proses my akademie afskeep nie. Ek glo ‘n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees. My boodskap aan ander jong sportmanne is om nooit op te gee nie. Druk deur, want as jy hard werk, kan jy enigiets bereik,” sê Duane.
Wanneer hy nie met sport besig is nie, besoek hy die gimnasium om te verseker dat hy altyd topfiks is.
Sy ma, Jackie is by afrigting by die klub betrokke en is sy grootste ondersteuner. “Hy is baie toegewyd en hoë eise aan homself,” vertel sy.
Volgens haar vind slegs een nasionale toernooi in Julie plaas waartydens die nasionale spanne gekies word. Spelers wat internasionaal deelneem, verwerf Proteakleure terwyl Springbokkleure vir nasionale deelname toegeken word,” verduidelik sy.
Duane wil na sy skoolloopbaan by sy oupa en ouers se familiebesigheid in Polokwane aansluit.
“My ouers het ook ‘n passie vir dié sport en ek sal definitief tyd maak om steeds ringbal te speel en dit te bevorder,” sluit hy af.

Storie en hoto: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Hooffoto: Duane Ueckermann met die goue medalje wat hy gedurende die Suid-Afrikaanse ringbalspan se toer na Mauritius verower het.

Related Articles

Back to top button