Arno Horn slaan radiorol in Ratels los

Wanneer Arno Horn op die verhoog klim, leef hy sy passie vir drama met oorgawe uit. Daardie uitsonderlike toewyding en uitmuntende toneelspel van hom is in die ATKV-Tienertoneelkompetisie in Kaapstad deur beoordelaars raakgesien en het hom ‘n gasrol in die jeugvervolgverhaal, Ratels as prys vir sy skitterspel besorg. Leon van Nierop, bekende vervaardiger, skrywer en …

Wanneer Arno Horn op die verhoog klim, leef hy sy passie vir drama met oorgawe uit.
Daardie uitsonderlike toewyding en uitmuntende toneelspel van hom is in die ATKV-Tienertoneelkompetisie in Kaapstad deur beoordelaars raakgesien en het hom ‘n gasrol in die jeugvervolgverhaal, Ratels as prys vir sy skitterspel besorg.
Leon van Nierop, bekende vervaardiger, skrywer en rolprentresensent, het Arno dadelik ‘n permanente rol in die vervolgverhaal aangebied na ‘n opname saam met die ander rolspelers.
“Ons is ‘n groot groep akteurs in die rolverdeling waarvan die meerderheid studente is. Net ek en ‘n ou van Centurion is nog skoolgaande.Van Nierop en die ander akteurs skep ‘n vrolike atmosfeer, maar die beste van alles is die voorreg om saam met Suid-Afrika se beste vervaardiger te werk,” sê Arno.
Ratels is RSG se eerste volwaardige jeugvervolgverhaal uit Van Nierop se pen, waarvan hy ook die regie behartig, en handel oor ‘n rebelse seun wat na ‘n skool gestuur word waar leerders opgelei word om hulself teen boelies te verdedig. “Ek speel die rol van ‘n populêre leerder en deel van die graad 11-groep wat nou begin regmaak vir hul matriekjaar,” sê Arno.
In werklikheid is Arno ‘n graad 11-leerder van Curro Heuwelkruin en is pas as hoofseun vir 2017 gekies.
“Ek is nog nie seker wat ek na skool wil doen nie. Dalk eers ‘n jaar rus en dan ‘n besluit neem. Drama en kultuur is my eerste keuse en ek sal graag in dié rigting wil studeer omdat my liefde daarvoor al ‘n lang pad kom,” sê hy.
Arno is sedert graad 1 op kultuurgebied betrokke. In graad 9 het hy vir die eerste keer aan ATKV-Tienertoneel deelgeneem en is as Curro Heuwelkruin se Kultuurster van die Jaar gekroon. Verlede jaar het hy die Ambassador Award vir spanredenaars, beste senior uitblinker vir spraak en drama- en die algehele senior uitblinker-toekenning van die National Eisteddfod Academy (NEA) ontvang. Hy het ook tydens die skool se prysuitdeling die Rektorsmedalje vir buitengewone kultuurprestasie gekry en is as Kultuurpersoonlikheid van die Jaar aangewys.
Op sportgebied het al provinsiale kleure in gimnastiek, atletiek, hokkie, rugby, krieket en gholf verwerf. In 2012 en 2013 is hy as die skool se Sportman van die Jaar aangewys. In 2015 was hy die Hokkiespeler van die Jaar en hy het ook op nasionale vlak aan atletiek deelgeneem. Hy speel ook sedert graad 8 vir die skool se eerstekrieketspan.
“Ek geniet sport, maar daar is min dinge wat vir my so bevredigend soos drama en kultuur is.”

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Arno Horn van Curro Heuwelkruin is onlangs deur Leon van Nierop gekies om deel van sy jeugvervolgverhaal, Ratels op RSG te wees.

Related Articles

Back to top button