Rumandi Potgieter spog met Protea-kleure vir netbal

Sy het net verlede jaar matriek voltooi, maar maak met rasse skrede nasionaal naam en het al ‘n Proteabaadjie in haar kas waarop sy met reg trots kan wees. Rumandi Potgieter het nie net al op ‘n jong ouderdom al op die netbalbaan uitgeblink nie, maar kan eenvoudig nie genoeg daarvan kry nie. Die rats …

Sy het net verlede jaar matriek voltooi, maar maak met rasse skrede nasionaal naam en het al ‘n Proteabaadjie in haar kas waarop sy met reg trots kan wees.
Rumandi Potgieter het nie net al op ‘n jong ouderdom al op die netbalbaan uitgeblink nie, maar kan eenvoudig nie genoeg daarvan kry nie.
Die rats buksie is deel van die Suid-Afrikaanse o.19-netbalspan wat onlangs met die o.19 Nasionale Netbalkampioenskappe deur keurders raakgesien is en as hulpdoel vir die Proteaspan gekies is.
Sy is ook kaptein van die o.23-South African Indoor Netball Federation (SAINF) aksienetbalspan wat volgende maand in Nieu-Seeland aan die wêreldkampioenskappe deelneem.
“Dit is ‘n ongelooflike eer om my land te verteenwoordig. Die beste gevoel is om te weet dat ek saam met die land se bestes op die baan is.” Daar is nog heelwat oefenkampe wat sy ter voorbereiding van komende toernooie moet bywoon.
“Netbal was nog altyd my eerste liefde. Die adrenalien, hoë fiksheidsvlak, taktiese uitdagings en passie vir die spel hou my gemotiveerd. Die netbalgogga het my as jong meisie gebyt en my harde werk en deursettingsvermoë oor jare begin nou vrugte afwerp,” sê die eerstejaarstudent wat B.Com-regte aan die Universiteit van Pretoria (Tukkies) studeer.
Potgieter is die afgelope sewe jaar in die provinsiale netbalspan en het vir drie jaar vir Curro Heuwelkruin se eerstespan uitgedraf.
In graad 10 was sy kaptein van die Limpopo-hokkiespan en het ook op skool provinsiale kleure in tennis verwerf.
Aksienetbal het haar belangstelling intussen geprikkel en sy het die afgelope twee jaar vir die provinsiale gemengde A-span uitgedraf.
“Ek was verlede jaar deel van die o.21-Protea aksienetbalspan en was ook onderkaptein. Vanjaar is ek ook vir die o.19- en o.21-Gautengnetbalspan, Tukkies se eer-stespan en die University Sports South Africa (USSA)-span wat goud tydens die USSA Kampioenskappe aan die begin van die maand gewen het, gekies.”
Oor die verskil tussen netbal en aksienetbal sê sy: “Aksienetbal is baie vinniger en die baan is smaller. Daar is ook nette om die baan wat die spoed en tegniek van die sport op ‘n ander vlak plaas. Ons gaan teen lande soos Australië, Engeland en Nieu-Seeland kragte meet. Dit gaan harde wedstryde wees, maar ek sien ongelooflik baie daarna uit om op so ‘n hoë vlak te speel.”
Haar rolmodel is die Protea-netbalspeler, Shadine van der Merwe. “Netbal is haar lewe, maar sy is ook nederig en verstaan die verantwoordelikheid wat met sukses gepaard gaan.”
Potgieter se raad aan jong netbalspelers is om nooit tou op te gooi nie. “As jy moedeloos en moeg is, rus, maar moet nooit handdoek ingooi nie. Werk hard en moenie dat iemand vir jou sê iets is onmoontlik nie.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Foto: Rumandi Potgieter verlede jaar in aksie as lid van Curro Heuwelkruin se eerste-netbalspan. Sy is onlangs tot die o.19-Proteaspan verkies en neem volgende maand aan die Indoor Netball World Cup as o.23-speler in Nieu-Seeland deel. 

Related Articles

Back to top button