Kierieklapperfees beloof vermaak vir jonk en oud

Joshua na die Reën, Brendan Peyper, Elvis Blue en Adam is van die sangers wat feesgangers vanjaar op hulle voete gaan hê.

MOKOPANE – Die Kierieklapperfees word van 3 tot 6 Augustus op Hoërskool Piet Potgieter se terrein gehou en beloof vermaak vir jonk en oud.

Die fees is die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes se grootste fondsinsamelingsprojek en lok elke jaar dusiende feesgangers.

Vir die kleinspan is daar vanjaar die gewilde Babalela, Clarisse en die Reënboog Kids, Rooikappie en Lolos. Die rofstoeiers is weens hulle gewildheid terug en hulle gaan ook vooraf skole besoek met die boodskap dat ‘n mens nie ‘n boelie hoef te wees nie.

Die gasvrougeleentheid word in Piet Pot se skoolsaal gehou met die aktrise Liz Meiring in haar produksie Langpad en Lipstieks.

Vrydgaand gaan Joshua na die Reën en die mansgroep, Adam die harte steel en Saterdagoggend is daar die gewilde pretdraf vir die fikses. Die skoonhede kry ‘n kans om mee te ding vir die Mej Kierieklappertitel. ‘n Nuutjie is die Bosveldstreek se Volksang en Volkspelers wat hulle passies kom wys en die sterkmanne span hulle spiere in ‘n sterkmanvertoning.

Wanneer die son begin sak, kan die feesgangers nader staan vir die musiek van Heuning, Irene Louise van Wyk en Elvis se Seun. Die hoofkunstenaar van die aand is die gewilde sanger, Elvis Blue.

Die talle stalletjies, biertent en wyntuin is vir die duur van die fees op die terrein om die hongerpyne te stil en die dors te les. Die sanger, Dillon Lerm, is weer die seremoniemeester en verskeie plaaslike kunstenaars kry die kans om vanjaar ook hulle talente te wys.

Die toegangsfooie is R60 vir Woensdag en Donderdag, R80 vir Vrydag en R100 vir Saterdag.Laerskoolkinders betaal R50 en vir voorskoolse kinders is toegang gratis. ‘n Naweekbandjie vir Woensdag tot Saterdag kos R250 vir volwassenes en R150 vir kinders en sluit toegang tot al die feesaktiwiteite op die terrein en die verhoog in.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version