Nadine Roos speel toprugby vir nasionale sewesspan

“My rugbyliefde het jare gelede al begin toe ek saam met my seunsmaats op die plaas begin speel het.” Ander sportsoorte het gevolg, maar rugby het uiteindelik verlede jaar in April weer Nadine Roos se voorkeursportsoort geword en slegs sewe maande later kon sy vir die eerste keer die groen en goud oor haar kop …

“My rugbyliefde het jare gelede al begin toe ek saam met my seunsmaats op die plaas begin speel het.”
Ander sportsoorte het gevolg, maar rugby het uiteindelik verlede jaar in April weer Nadine Roos se voorkeursportsoort geword en slegs sewe maande later kon sy vir die eerste keer die groen en goud oor haar kop as lid van die vroue-Springboksewesspan trek.
Sy is tans ‘n student aan die Universiteit van Pretoria (Tukkies) waar sy ekonomiese bestuurswetenskappe studeer en is ook ‘n kranige atleet, netbalspeler en Crossfit-entoesias.
Tukkies se sewesafrigters, Riaan van der Merwe en Konrad Lotter, het haar spoed en hoë fiksheidsvlak verlede jaar in haar eerste jaar raakgesien en ‘n plek in die span het amper as vanselfsprekend gevolg.
“Ek het nooit gedink dat ek so vinnig so ver sou vorder nie. Dis ‘n baie groot eer om ‘n Springbok te wees en goeie motivering om te weet jy verteenwoordig jou land,” sê sy.
Roos oorweeg dit om haar studies weens logistieke redes aan die Universiteit van Stellenbosch voort te sit, omdat die Springbokspan se oefenkampe daar gehou word, maar beklemtoon dat haar studies haar eerste prioriteit bly.
Die skraal blondekop en oudleerder van Hoërskool Pietersburg (PHS) draf hoofsaaklik as vleuel uit, maar speel ook senter en skrumskakel en geniet sewesrugby omdat dit ‘n vinnige spel is en kontak maklik vermy kan word. Tegniek is egter belangrik en spelers moet op hul voete kan dink juis omdat die spel so vinnig is.
Binne twee maande nadat sy begin speel het, het Roos in Mei en Junie aan twee toer-nooie in Frankryk en Switserland deelgeneem.
Tydens die Stanislas Sewestoernooi in Nancy, Frankryk, is sy as Speler van die Toernooi aangewys.
Daarna het sy weer die Speler van die Toernooi-toekenning in die Noordelike Streektoernooi in Kemptonpark gekry en tydens die nasionale kampioenskappe in Nelspruit is sy vir die Suid-Afrikaanse oefengroep gekies. In November verlede jaar is sy vir die Springbokspan gekies.
In Desember het die Tuksspan aan die Wêreld Seweskampioenskappe in Dubai deelgeneem en algeheel elfde geëindig. Dit was vir haar ‘n teleurstelling, want sy wou bittergraag in die bekerfinaal speel.
Vanjaar het sy reeds in Februarie die eer-ste Springbokoefenkamp bygewoon en aan die VSA Seweskampioenskappe in Las Vegas deelgeneem.
Die Springbokspan vertrek Sondag, 3 April na die jaarlikse Hong Kong Sewestoernooi en speel op 8 April hul eerste wedstryd teen Engeland.
Roos is ook ‘n kranige 400 m en 400 m-
hekkiesatleet en haar doelwit is om óf as atleet óf as sewesspeler aan die 2020 Olim-piese Spele deel te neem. Intussen mik sy vir deelname as Springbok vir die Sewesrugbywêreldreeks in 2017 en die Wêreldbekerkampioenskappe in 2018.
Wanneer sy ekstra tyd het, spandeer Roos dit graag saam met haar vriende of met ‘n potjie gholf.

Foto: Nadine Roos is ‘n veelsydige sportster wat vir die vroue-Springboksewesspan uitdraf.  

NELIE ERASMUS
>>nelie.observer@gmail.com

Exit mobile version