Wally Fraser wen gesogte Sanlam Adelaar-eerbewys vir uitnemendheid

Een van die stad se bekendste finansiële adviseurs, Wally Fraser, stigter en mede-eienaar van Fraser en Vennote Blouster is verlede week deur Sanlam met die hoogste prestasietoekenning in die bedryf, die Adelaar-toekenning, vereer. “Toe ek destyds by Sanlam aangesluit het, het Willie Roux die Adelaar-toekenning ontvang en dit het my doelwit en droom geword om …

Een van die stad se bekendste finansiële adviseurs, Wally Fraser, stigter en mede-eienaar van Fraser en Vennote Blouster is verlede week deur Sanlam met die hoogste prestasietoekenning in die bedryf, die Adelaar-toekenning, vereer.
“Toe ek destyds by Sanlam aangesluit het, het Willie Roux die Adelaar-toekenning ontvang en dit het my doelwit en droom geword om dit ook eendag te kry. Ek het elke dag rondom my aspirasie om die toekenning te verwerf, beplan.
‘n Finansiële adviseur word op grond van produksie, volhoubaarheid en kwaliteit gekeur en dit neem gewoonlik sowat 35 jaar om die toekenning te ontvang. Ek is geseënd dat ek hierdie prestasie binne 12 jaar kon bereik,” sê Fraser en meen dit was slegs deur God se genade dat die eer hom te beurt geval het.
Hy is die 123ste werknemer in die maatskappy se geskiedenis wat as Adelaar aangewys is.
Fraser het in April 1983 as adviseur by Sanlam aangesluit en is in die volgende jaar as assistent-takbestuurder aangestel en het dieselfde jaar sy eerste toekenning as juniorkampioen verower.
In 1986 is hy as takbestuurder in Bloemfontein aangestel en in 1989 tot senior-takbestuurder bevorder. Daarna het hy vinnig opgang gemaak en is in 1992 as ontwikkelingsbe­stuurder in Pretoria aangestel en ‘n jaar later as Sanlam se Bestuurder van die Jaar aangewys.
Fraser het in 2001 na Polokwane as senior finansiële adviseur verhuis.
Sedert 2008 woon hy jaarliks die hoof uitvoerende-beampte-prestasietoekennings op uitnodiging by en sal volgende maand weer in Stocholm, Swede vir dié spesiale geleentheid wees.
“ My seun, Walter se aansluiting in 2005 by Sanlam is ‘n hoogtepunt in my loopbaan. Ek is trots op sy prestasies en geëerd dat hy in my voetspore volg,” sê Fraser.
Sy advies aan Walter was van die begin af om nooit kortpad te vat nie en homself gereeld oor nuutste wetgewing en produkte op te skerp. Die belangrikste bly om altyd in God, jouself en die produk te glo. In 2010 is Fraser en Vennote Blouster met sy seun, Walter as vennoot gestig.
Fraser geniet dit om daagliks met mense te werk en ‘n verskil in hulle lewens te maak hoewel dit soms ‘n uitdaging is om daagliks alle kliënte gelukkig te hou en net die beste produkte en diens te lewer.
“Wanneer ek ‘n produk voorstel of advies gee, vra ek myself eers af of ek daarmee tevrede sou wees indien ek in die kliënt se skoene gestaan het.”
Hy meen sy sukses lê in sy konsekwentheid, harde werk, eerlikheid en om by basiese beginsels te bly.
Wanneer die gerekende finansiële adviseur nie agter sy lessenaar is nie, is hy in die tuin doenig. Hy is ook ‘n ywerige versamelaar van Mercedes-Benz-skaalmodelle met meer as 100 in sy besit en spog met ‘n stewige whiskey-versameling met selfs sy eie Fraser-handelsmerk whiskey.
“My vrou, Joyce en my kinders is my ondersteuningsnetwerk. Ek is geseënd dat hulle elke prestasie met my kan deel.”

Hoof Foto: RC Myburgh  – Wally Fraser is verlede week met die die Adelaar-toekenning vereer wat die hoogste eerbewys vir finansiële adviseurs is.

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version