Passievolle Zander aangewys as Skeidsregter van die Jaar

Toe die 21-jarige Zander Kubannek vier jaar gelede sy rugbystewels vir ‘n fluitjie verruil het, het hy nie in sy wildste drome gedink dat hy eendag as Skeidsregter van die Jaar aangewys sou word nie. Die eer het hom onlangs te beurt geval tydens die Limpopo Blou Bulle Rugby Skeidregtersvereniging (LBBRSV) se jaareindfunksie. “Ek was …

Toe die 21-jarige Zander Kubannek vier jaar gelede sy rugbystewels vir ‘n fluitjie verruil het, het hy nie in sy wildste drome gedink dat hy eendag as Skeidsregter van die Jaar aangewys sou word nie.
Die eer het hom onlangs te beurt geval tydens die Limpopo Blou Bulle Rugby Skeidregtersvereniging (LBBRSV) se jaareindfunksie.
“Ek was uit die veld geslaan toe ek die toekenning kry en het dit glad nie verwag nie.”
Kubannek het as jong kannetjie al ‘n passie vir rugby gehad en was maar net ses jaar oud toe hy bulletjierugby by Laerskool Piet Hugo begin speel het.
In 2012 het hy aan Hoër Tegniese Skool Tom Naudé (HTS) gematrikuleer waar hy van graad 8 tot -10 vir die skool se A-spanne uitgedraf het. In 2010 het hy tydens ‘n rugbywedstryd waar sy broer, Wallies gespeel het besef dat hy eerder die fluitjie wil blaas. “Ek het vir my ouers, Leon en Sharmyn gesê dat ek ‘n skeidsregter wil word en het nooit weer terug­gekyk nie. Die volgende jaar het ek by die LBBRSV aangesluit en onmiddellik met kursusse begin om my drome uit te leef,” sê Kubannek.
Hy is tans op die skeidsregterpaneel van die eerste liga waar hy regoor Limpopo wedstryde blaas en selfs al geleentheid gekry het om in Kaapstad by die Skole Cravenweek vir Leerders met Spesiale Behoeftes en by verskeie klub-, skole- en koshuisrugbywedstryde die fluitjie te hanteer. Hy verkies egter om klub- en hoërskool­vlakwedstryde te blaas.
Kubannek het in Augustus vir vier weke Maties Rugby Akademie in Stellenbosch bygewoon om sy vaardighede te slyp. “Dit was ‘n ervaring van ‘n leeftyd waaroor ek baie dankbaar is. Ons het fiksheidtoetse ondergaan, wedstryde geblaas en moes die nuutste rugbyreëls onder die knie kry.”
Hy erken dat dit soms moeilik op die rugbyveld raak en dat sy grootste uitdaging toeskouers en spelers is wat hardekwas is, maar meen ‘n mens moet leer om die druk te hanteer. Sy raad aan potensiale skeidsregters is om altyd jou bes te gee, nederig te bly en hard te werk om die beste te wees waartoe jy in staat is.
Kubannek, wat ‘n studente-onderwyser by Pietersburg Laerskool (Suidskool) is, sê die toekenning het hom die selfvertroue gegee om hopelik in die toekoms voltyds die fluitjie te hanteer. Hy het ook groot drome om eendag by ‘n wêreldbe­kerwedstryd te blaas en Suid-Afrika en veral sy provinsie se naam hoog te hou.
Hy bedank sy ouers en mentor, Attie Buitendag, voorsitter van die LBBRSV vir al hulle hulp en ondersteuning om sy drome te help vlerke gee.

LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>leandri.observer@gmail.com

Foto: Verskaf Zander Kubannek as skeidregter in aksie langs sy broer, Wallies wat ‘n wedstryd speel.
Foto: Verskaf
Zander Kubannek as skeidregter in aksie langs sy broer, Wallies wat ‘n wedstryd speel.
Zander Kubannek in aksie op die rugbyveld.
Zander Kubannek in aksie op die rugbyveld.

Related Articles

Back to top button