Sulé van der Merwe ryg swemtrofeë in

Wanneer Sulé van der Merwe in die water is, is sy op haar gelukkigste. Sy het vanjaar bewys dat daar deeglik met haar rekening gehou moet word nadat sy Saterdag tydens Eagar Aquatics se jaarlkse prysuitdeling met drie van die toptrofeë weggestap het. Die sestienjarige presteerder spog met trofeë vir die beste vordering in die …

Wanneer Sulé van der Merwe in die water is, is sy op haar gelukkigste.
Sy het vanjaar bewys dat daar deeglik met haar rekening gehou moet word nadat sy Saterdag tydens Eagar Aquatics se jaarlkse prysuitdeling met drie van die toptrofeë weggestap het.
Die sestienjarige presteerder spog met trofeë vir die beste vordering in die ouderdomsgroep vir meisies 16 jaar en ouer, beste senior meisie 13 jaar en ouer en beste swemmer by nasionale kompetisies.
Haar afrigter, Douggie Eagar verduidelik dat sy die eerste trofee gekry het omdat haar tye die meeste in haar swemstyle verbeter het.
Die tweede trofee is aan haar toegeken vir die beste algehele prestasie tydens die National Prestige Age Group Gala terwyl sy die derde trofee ontvang het vir beste algehele prestasie tydens alle nasionale byeenkomste gedurende die jaar.
“Oor twee jaar gaan ons nog groot dinge met Sulé sien gebeur. Sy is toegewyd, hardwerkend en pligsgetrou. Wanneer sy nie by die oefening is nie, weet ek daar is ‘n geldige rede omdat sy dit nie maklik mis nie,” sê Eagar.
Sedert sy in graad 8 as leerder van Hoërskool Pietersburg ernstig begin swem het, het sy gereeld goue medaljes tydens nasionale vlak twee kompetisies ingepalm en kwalifiseer binne ’n jaar as vlak drie swemmer op grond van haar goeie tye.
Tydens vanjaar se Suid-Afrikaanse Senior Kortbadkampioenskappe waar sy teen die land se beste senior swemmers kragte gemeet het, het sy ‘n tweede plek in die 200 m-vlinderslag sowel as in die 200 m-rugslag verower.
“Vandat ek begin swem het, het my liefde vir dié sport net aanhou groei en my wil om te presteer, het net sterker geword,” sê Sulé en voeg by dat rug- en vlinderslag haar gunstelingstyle is, maar dat sy ook in vryslag en individuele aflos uitblink.
“Die harde oefening om jou doel te bereik en ‘n swembad vol vriende is die lekkerste deel van swem. Al kompeteer ‘n mens as individuele swemmer is dit tog spanwerk en die motivering van spanmaats wat alles die moeite werd maak,” meen sy.
Volgens haar moet ‘n goeie swemmer iemand wees wat bereid is om lang ure te oefen, baie selfvertroue hê en sy beste in die water gee. “Benewens die persoonlike eienskappe hang jou sukses ook van die afrigter af en oom Douggie is definitief een van die bestes as mens na die klub se prestasies kyk. Hy druk sy swemmers, maar motiveer hulle terselfdertyd om die beste te wees waartoe elkeen in staat is,” sê Sulé.
Haar droom is om na skool by die universiteit se swemspan aan te sluit. “Ek is nog nie seker waar of wat ek wil studeer nie, maar swem sal definitief deel van my daaglikse agenda wees.”
Sy hoop om op universiteitsvlak ‘n kans te kry om vir internasio-nale kampioenskappe te kwalifiseer of selfs vir die Olimpiese Spele gekies te word.

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version