PHS o.16A-hokkiemeisies dra vanjaar dubbelkroon

Dit is nie vir elke hokkiespan beskore om vir die derde agtereenvolgende jaar as wenners van die TuksSkole-reeks aangewys te word en dan nog boonop goud in die Noordvaalreeks vir die tweede keer huis toe bring nie. Hoërskool Pietersburg (PHS) se o.16A-meisiehokkiespan het dit vanjaar reggekry en bewys dat daar deeglik met hulle rekening gehou …

Dit is nie vir elke hokkiespan beskore om vir die derde agtereenvolgende jaar as wenners van die TuksSkole-reeks aangewys te word en dan nog boonop goud in die Noordvaalreeks vir die tweede keer huis toe bring nie.
Hoërskool Pietersburg (PHS) se o.16A-meisiehokkiespan het dit vanjaar reggekry en bewys dat daar deeglik met hulle rekening gehou moet word op die hokkieveld.
Die hoogtepunt van dié span se prestasies vanjaar was toe hulle in Mei die derde agtereenvolgende jaar as wenners van die gesogte TuksSkolereeks aangewys is nadat hulle 2-0 met Hoërskool Transvalia afgereken het.
Die span het die afgelope naweek hul ystergreep met elke wedstryd versterk toe hulle Hoërskool Menlopark Maandag met 1-0 in Johannesburg in die finaal van die Noordvaal-reeks in ‘n taai kragmeting geklop het.
Die span se afrigter, Leanie Grobler sê Pieties het eers Hoërskool Kemptonpark met 7-0 kafgedraf. Daarna het die talentvolle spelers 1-0 met Afrikaans Hoër Meisieskool afgereken en Hoërskool Menlopark 3-1 geklop.
In die kwarteindronde het die spogspan vir Hoërskool Ermelo met 3-1 getroef en teen Hoërskool Monument in die halfeindronde gelykop gespeel waarna hulle die span met die uitklopspel 2-1 gewen het.
Die span was ook in 2013 Noordvaalwenners en was verlede jaar derde in die reeks.
“Die span se sukses lê bloot in harde werk en die spelers se toewyding en passie vir die spel. Ek kan nie ‘n speler uitsonder nie want almal werk as ‘n span saam. Hulle is ‘n eenheid wat doelgerig is en die deursettingsvermoë het om net die beste te wees,” sê Grobler.
Sy spog en sê die span het nie een wedstryd tydens vanjaar se hokkieseisoen verloor nie en het slegs vyf doele afgestaan teenoor 73 wat hulle teen verskeie ander skole kon aanteken.
Grobler sê die span speel kookwaterhokkie vandat hul as o.14-spelers saam begin speel het. “Hulle het oor die afgelope drie jaar konstant gegroei en as ‘n span sterker geword met vriendskapsbande wat hegter geword het. Spelers vertrou mekaar en die goeie gees onder hulle is uniek,” sê Grobler.
“Die span se sukses lê in die bevoegdheid van Grobler as afrigter en hulpafrigter, Monique Potgieter wat ‘n gedugte span vorm om die meisies se sukses te verseker,” sê Annamarie Schoeman, skakelbeampte van PHS.
“Dit is ‘n aangename klomp meisies om mee te werk. Hulle maak dit elke dag die moeite werd om vir oefening op te daag. ‘n Goeie afrigter moet die perfekte voorbeeld vir die span wees. Jy moet passie vir die sport hê, stiptelik wees en jou liefde vir hokkie moet op die span voor jou kan groei,” sê Grobler.
Sy het ook haar dank teenoor die span se borge, Energy Shop en Limpopo Toyota uitgespreek.

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version